Van kleins af word ons geleer dat ons hare ons kroon is. Lang, dik, welige hare word met skoonheid geassosieer. Ons word gereeld herinner om dooie haarpunte te sny en moeite te doen met ons kapsel, al is ons nie noodwendig lus nie. 

Dink maar aan sprokiesverhale soos Raponsie en modelle in glanstydskrifte. Lyk jou hare die dag nie goed nie, voel jy aaklig en sak jou moed in jou skoene. 

Maar wat gebeur as jou hare skielik begin uitval? “As jy jou kroon verloor, gaan jy deur maande se rou. Nee, vir my is dit al ’n jaar,” antwoord Suzanne Potgieter, grimeerkunstenaar en haarstileerder van Skoonlief.

FOTO Facebook / Suzanne Potgieter

Die SARIE-skoonheidspan het met Suzanne gesels oor alopesie areata, die outo-immuunsiekte wat by haar gediagnoseer is.  

Diagnose

“Ek gaan tweeweekliks na my salon vir ’n sny en blaas, juis omdat ek baie én dik hare het. Eliot, my getroue haarkapper, het te midde van die blaas gestop en gevra of ek medikasie gebruik. Toe ek vra hoekom, wys hy my agter in die spieël ’n R5-munt-grootte bles kol op my agterkop. Ek was geskok, maar nie gestres nie. Stampe en stote gebeur mos. Nee, dis niks. Twee weke later en daar is twee kaal kolle ...”

Dis toe Suzanne op Google moontlike oorsake begin soek het. 

“Haarverlies lei jou in ’n doolgang van oorsake en ‘kitsgenesings’,” sê sy. Sy het eers haar hormone laat toets, want ’n skildklierprobleem veroorsaak haarverlies. Die probleem was nie hier nie, hoewel die uitslae gewys het dat sy ’n groot vitamien B12-tekort het. Ná drie maande se weeklikse inspuitings was daar nog geen verbetering nie. 

“Toe begin ek sjampoes navors.” Sy was vir agt jaar in die akademie en is lief vir navorsing. “Dis hoe ek op alopesie areata afgekom het.” 

Volgende het sy begin soek na ’n dermatoloog in Kaapstad wat in haarverlies spesialiseer, en só het haar pad met dr. Niels Holm gekruis.

Sy het die ergste verwag, maar dit was steeds moeilik toe dr. Holm haar selfdiagnose bevestig het. “Dit was ’n skok vir die sisteem ... Alopesie is geneties oorerflik en ’n outo-immuunsiekte.”  

Waar dit vandaan kom, weet sy nie, want haar familie is geseën met dieselfde welige hare wat sy gehad het. Navorsing oor die toestand skiet nog tekort. “Stres is glo nie ’n oorsaak nie, maar ek glo vas dis ’n sneller. Baie lyers noem dit ook en hoe meer jy stres oor haarverlies, hoe erger word dit. Dis ’n bose siklus,” sê sy. 

FOTO Facebook / Suzanne Potgieter

Wat is alopesie areata?

Alopesie areata is ’n “versteuring van haargroei gekenmerk deur skerp omskrewe, heeltemal kaal plekke op die behaarde kop,” volgens Pharos. 

Die immuunstelsel val die haarfollikels aan, wat dan haarverlies veroorsaak. Die follikels word kleiner en begin al hoe minder hare vervaardig. “Jou sisteem val jouself aan, met ander woorde, my sisteem sien die plekke op my kopvel as ‘bedreigend’, val dit aan en dit lei tot haarverlies.” 

Man with alopecia areata on head, Spot Baldness, H
FOTO Getty Images / Gallo Images

Dit kan ook sigbaar wees op ander areas van die lyf, soos die wenkbroue, wimpers en arms. “Dit verskil van female balding, wat voor op die haarlyn begin en moeilik is om weg te steek. Female balding is ook sterk hormoonverwant,” sê Suzanne. 

Die proses van aanvaarding 

“Ek het my man eerste vertel. Gelukkig kom hy nie eens agter as ek my hare kleur nie!” Sy was dankbaar om nie verwerp te voel nie.

FOTO Vivid Blue Studio

’n Bron van kommer was haar beroep, wat so sterk op die estetiese en uiterlike fokus.

“Ek was bang. Wie wil ’n haarstilis hê wat hare verloor? Dit was my groot kwelpunt. Ek het agt maande ná my diagnose die nuus gedeel op sosiale media - ook op Skoonlief. Die reaksie was oorweldigend! En ek was nie alleen nie ... talle vriende en volgelinge ly ook daaraan. Almal het my so ondersteun en my nog mooier laat voel.”

FOTO Facebook / Suzanne Potgieter

Behandeling

Haar haarverlies het vinnig gevorder en vier kaal kolle is agter op haar kop geïdentifiseer. Dit was nie maklik nie. “Ek sou dikwels sit en my kaal kolletjies obsessief voel en dit sou my intens hartseer en bekommerd maak.” Sy vertel dat baie dokters sielkundige hulp aanbeveel om met die proses van aanvaarding te help.

Boonop is behandeling nie goedkoop nie en moet lyers leer om geduldig te wees. “Moenie oornag resultate verwag nie. Hierdie siekte toets jou geduld en jou gemoed.”

Sy het met kortisoon-inspuitings begin om haargroei te stimuleer. “Dis seer en ek het verskeie spuite maandeliks en ’n sproei op voorskrif nodig.” Die kortisoon werk, die kaal kolle op haar agterkop is al met haartjies van 8-10 cm en langer gevul. Na aanleiding van haar eie navorsing gebruik sy ook die Nioxin-haarsorgreeks. 

As jou begroting knyp, beveel sy kleursproei aan. Dit sal die kolle bedek en help dat die kaal areas nie tussen die res van jou hare sigbaar is nie. Mans en vroue met kort hare kan tatoeëerkuns oorweeg: die kolle word met lyne ingekleur. Kopbande en ander mooi haarbykomstighede is nog ’n bekostigbare kitsoplossing. 

Haar raad aan ander

“Jou hare is nie jou kroon nie, jou hart is. Toe ek my storie vertel het baie mense nie oor my hare kommentaar gelewer nie, maar hoe mooi my hart is. Maak seker jou bydrae tot die lewe is nie wat jy esteties kan wys nie, maar emosioneel bied. Ek het ook nog meer begrip vir my bruide met haarverlies - ek verstaan en ek weet hoe om hulle te help om steeds beeldskoon te lyk.”

Wat sy oor haarself geleer het

“Ek is nie my hare nie, my hare is slegs ’n deel van my. Stel jou voor: iemand sê jy verloor jou reuksintuig, gaan dit verander wie jy is? Nee. Jy is baie meer as wat die wêreld van jou uiterlike verwag. Hare is letterlik so oppervlakkig. Dis ’n verlies van die uiterlike, maar ons leef steeds. Dalk meer omdat ons besef niks is permanent nie.” 

FOTO Facebook / Suzanne Potgieter
 Bronne: www.healthline.com, www.naaf.org