Desember is om die draai en die Kerstyd is amper hier. Kersfees is die perfekte geleentheid om jouself, jou ma, suster óf vriendin te bederf. ’n Geskenk wat jou spesiaal of mooi laat voel is ’n goeie keuse.

Die SARIE-skoonheidspan het ’n paar topprodukte gekies, ideaal vir skoonheidsliefhebbers. Parfuum, grimering en ander bederfprodukte is op dié lys, daar is iets vir almal.

1. ghd Royal Dynasty Gold Styler (R2 800)

Die pragtige stel in roosgoud en wynrooi is ’n luukse bederf vir enigiemand wat daarvan hou om hul hare elegant en met min moeite te stileer.

2. Nimue DIY Home Facial Kit (R770)

Die feesseisoen is die beste tyd om jouself of iemand spesiaal te bederf en te pamperlang. Die feestelike verpakking bevat drie produkte (Nimue Exfoliating Enzyme, Nimue Glyco Mask en Nimue Limited Edition Hydra Replenish Gel-cream) om dooie velselle te verwyder, jou vel af te skilfer vir ’n pragtige gelaat en jou vel te bevog vir beter elastisiteit. 

3. The Body Shop Juicy Pear Delights (R120)

Peerekstrak van Italië skep ’n heerlike geur vir somer. Die kerspakkie met ’n lyfwas, lyfroom en spons is opgetooi in feestelike groen en rooi.

4. Dermalogica The Ultimate Cleanse and Glow Trio (R1 700)

Die geskenkpak ter waarde van R2 400, bevat drie sterprodukte wat jou vel reinig, verhelder en afskilfer vir ’n mooi gesonde gelaat.

5. Dior Diorific Vernis Limited Edition in Passion en Happy 2020 (R485)

Die skakerings herinner aan Kersfees. Rond jou naels met ’n feestelike voorkoms af, probeer die rooi-skakering met die Happy 2020-bolaag vir ekstra glans.

6. Burt's Bees Lip Shimmer in Rhubarb (R99). Beskikbaar aanlyn by www.takealot.com

Die lipglans skep ’n pragtige glans met subtiele kleur op jou lippe. Die formule bevat byewas, galambotter, vitamien E en pepermentolie wat jou lippe voed, bevog en sag hou. 

7. Environ Limited Edition Avance Elixir 50ml Cracker + Free 20ml (R1 300)

Dis ’n gekonsentreerde serum met drie verskillende peptiedes. Die serum het ’n liggewigte tekstuur wat jou velwand beskerm en jou veltekstuur meer egalig en jeugdig laat lyk.

8. Sorbet Hot-Damn Happy (R450)

Dié salongroep stel elke jaar oulike geskenkpakkies beskikbaar wat reeds mooi verpak is. ’n Pragtige silwer grimeersakkie met oogomlyner, maskara en ’n lipstiffie is net wat jy nodig het om feestelik mooi te lyk.

9. Chanel N°5 Mini Twist and Spray + Chanel N°5 L'Eau EDP (R 2 960)

Chanel vier die betowering wat met Kersfees sinoniem is. Die pragtige geskenkpak bevat die ikoniese Chanel N°5 L'Eau (100ml EDP) sowel as ’n kleiner parfuumbottel vir wanneer jy reis (7ml EDP). Pragtig verpak in swart en wit is dié parfuum ’n ligter en varser weergawe van die oorspronklike Chanel N°5. Note van suurlemoen, lemoen, mandaryn, jasmyn en wit muskus is perfek vir somer.

10. Avon Encanto Irresistible (R179) Beskikbaar aanlyn by my.avon.co.za

Die geskenkpak bevat ’n lyfwas, lyfroom en handeroom. Die nuwe reeks is liggies met amber gegeur wat heerlik op jou vel draal.