Wanneer jou liggaam en gees gesond is, lyk jou vel net mooier. Voed jou vel van binne deur die drie warm drankies te drink. Dis heerlik warm in die koue weer en help boonop vir ’n gesonde, stralende gelaat.

#1 Matcha-groentee

Matcha is groenteeblare wat tot ’n baie fyn poeier gemaal word. Die heldergroen poeier word dan met warm water gemeng en dikwels in die plek van koffie gedrink omdat dit ook kafeïen bevat. Dit bevat kragtige antioksidante wat die vermoë het om jou velselle teen toekomstige skade deur omgewingsfaktore soos die son, besoedeling, stres en ’n ongesonde dieet te beskerm. Studies het selfs al getoon dat matcha-groentee ’n ster-bestanddeel bevat wat aknee kan verbeter deurdat dit hormoonvlakke stabiliseer en só help dat jou vel nie oortollige sebum vervaardig nie.

A post shared by Ophelia (@opheliayoga) on

#2 Borrie-latte

Die spesery borrie word deesdae op al hoe meer restaurantspyskaarte gesien in vars sappe of turmeric lattes. Dis omdat die aktiewe bestanddeel in borrie, kurkumien, breingesondheid kan aanhelp, insulienweerstandigheid kan verminder en matige depressie-simptome kan verlig. Dit kalmeer ook jou vel en laat dit minder pofferig lyk.

Maak jou eie warm borriedrankie deur ’n koppie melk of amandelmelk met ’n teelepel borriepoeier en ’n knippie kaneel en neut-muskaat te meng. Maak die mengsel op die stoof warm en versoet dit met heuning.

#3 Rooibostee

Rooibostee is ’n natuurlike bron van alfahidroksisure. Dié sure is ’n gewilde afskilferaar in velsorgprodukte en help jou vel om vog en fermheid te behou. Dit gee ook aan jou gelaat ’n gesonde, stralende gloed.