’n Vlokkerige, droë en geïrriteerde vel is baie van ons se voorland gedurende die winter. Jy wil lyk asof jy pas van ’n seevakansie terugkeer, maar dit is ongelukkig nie so eenvoudig nie.

Die koue klimaat het ’n ander plan met jou vel. Die kombinasie van koue lug buite en verwarmers binne kan jou vel dehidreer. Om dit teen te werk en te verseker dat jou vel steeds gesond, lewendig en glansend lyk, moet jy jou velsorgroetine en selfs jou grimering aanpas. 

1. Gebruik ’n vogroom met bestanddele wat jou vel verhelder

Wend ’n vogroom soggens en saans aan. Kies ’n produk met bestanddele wat jou vel voed en verhelder. Gebruik altyd ’n vogroom voor jy jou grimering aanwend. Dit help om ’n douerige, glansende gelaat en grimeervoorkoms te skep. 

Probeer L'Oréal Paris Revitalift Energising Cream  with Pro-Retinol & Red Ginseng Extract (R190). Dié vogroom se rooi formule bevat rooi ginseng. Hierdie aktiewe bestanddeel is veral gewild in Oosterse lande. Dit tree op as ’n antioksidant wat selvernuwing aanmoedig. Kleurpigment in die formule help om jou natuurlike gelaat te verhelder.

2. Vermy produkte met ’n poeierafwerking

Poeier kan jou vel nog droër laat lyk omdat dit geen vog bevat nie. Gebruik ’n voggewende onderlaag of BB-room wat jou vel vog gee en boonop merke verbloem.

3. Kies ’n basislaag met ’n glansende afwerking

Ons is geneig om eerder ’n basislaag met ’n matafwerking te gebruik. Basislae met glans help om jou gelaat ’n stralende voorkoms te gee.

4. Gebruik ’n voggewende reiniger in plaas van gesiglappies

Gesiglappies werk minder sagkens as ’n voggewende reiniger. Dit kan jou vel se natuurlike olies stroop en dit droog en geïrriteerd laat.

5. Kry die regte vette in

Om gesonde vette soos avokado, amandels en salm deel van jou dieet te maak, kan jou vel voed en hidreer. Die regte vette plomp jou vel op en verhelder dit.

Bronne: www.allure.com, www.telegraph.co.uk