#1 Rooi lippe

FOTO Rooi lippe op die 6 April 1955-uitgawe van Sarie Marais

TOE

Die geskiedenis het keer op keer gewys hoeveel krag en emosie in rooi lipstiffie opgesluit is. Tydens die oorlog in die jare veertig is Britse en Amerikaanse vroue aangemoedig om rooi lipstiffie te dra as ’n manier om hulself en die samelewing te bemagtig en aan te spoor.

Dié vurige kleur was so gewild teen die tyd dat die eerste Sarie Marais op 6 Julie 1949 verskyn het dat tot negentig persent van vroue in Amerika en Brittanje daagliks rooi lipstiffie gedra het. Suid-Afrika se modebewuste vroue van die tyd was geen uitsondering nie.

’n Volronde, gedefinieerde mond is deur plaaslike vroue nagestreef en Sarie Marais se eerste skoonheidsblaaie was gevul met raad en slim truuks oor hoe om lippe mooi te omlyn en ’n perfekte Kupido-boog te skep.

NOU

Noem dit gelukkige toeval, maar die glansryke grimering van die jare veertig en vyftig maak sowaar vanjaar ’n terugkeer na die loopplanke.

“Dit beteken ’n soliede, helderrooi lipstiffie met ’n matafwerking is nou in die kol,” sê Marike Nel, SARIE Voorbladgesig 2013 en opleier vir die grimeerhuis MUD. ’n Lippotlood is noodsaaklik om jou liplyn te definieer en te keer dat jou lipstiffie in die lyntjies om jou mond “bloei”.

Kies een wat deursigtig is of in ’n kleur soortgelyk aan jou rooi lipstiffie. Omlyn jou lippe daarmee en wend dan jou lipstiffie aan. “Jy kan ook eers jou hele lip met ’n rooi lippotlood inkleur om jou rooi lipstiffie langer te laat hou en nóg helderder te laat lyk,” sê Marike.

Probeer die produkte:

1. Die formule van MUD Satin Lipstick in Lady Bug (R345) het ’n fluweelagtige matafwerking en voel nie swaar op jou lippe nie. By MUD-winkels en www.mudsa.co.za

2. Gebruik die Sensai Lip Pencil in Actress Red (R680) en daarna Sensai The Lipstick in Sakura Red (R975). Dié lipstiffie bevat ’n spesiale sy-ekstrak om fyn lyntjies op jou lippe te help verbloem. By uitsoektakke van Edgars en Dis-Chem

3. 'n Dieper bessierooi is ideaal vir die kouer maande en vlei alle velkleure. Probeer Almay Lip Vibes Lipstick in Love Yourself (R150). By Dis-Chem

4. Bevog droë winterlippe en gee dit ’n tikkie rooi kleur met Kalahari Soothing Lips in Kalahari Sunset (R115). By uitsoeksalonne en -spa’s

SARIE Voorbladgesig word trots aangebied in samewerking met Jimmy Choo ParfumsINOARIsa Carstens Akademie en Kalahari Lifestyle