#3 Maskara tot die mag tien!

FOTO Instagram / Pat McGrath

TOE

Gaan jy deur SARIE se argief, is dit duidelik dat maskara se gewildheid nog nooit getaan het nie – daar is regtig al boekdele geskryf oor dié towerstaf wat jou oë definisie gee, vergroot en verhelder.

Gitswart maskara op jou wimpers kontrasteer met die wit van jou oë en skep só die illusie van groter oë. Die eerste “maskara” vergelykbaar met vandag se produk, het uit ’n mengsel van steenkoolpoeier en petroleumjellie bestaan.

Later is die steenkoolpoeier met seep gemeng en as ’n soliede blokkie grimering met ’n borseltjie verkoop. Dit was ’n morsige, ingewikkelde storie om dié maskara aan te wend, maar vroue was nietemin vasberade om die glansryke wimpers van die ou Hollywood-aktrises na te boots. Eers in die laat jare vyftig het die eerste vloeibare maskara in ’n buisie die lig gesien.

FOTO Instagram / Pat McGrath

NOU

Moderne maskara verrig wonderwerke, want met slegs een produk kan jy kort wimpers verleng, reguit wimpers krul en yl wimpers definisie en volume gee.

Vir gedefinieerde wimpers met trefkrag, wend drie lae aan en maak seker elke haartjie word van wortel tot punt behoorlik met maskara bedek. Plaas die maskaraborsel so na as moontlik aan jou wimperlyn en wikkel dit effens deur jou wimpers terwyl jy die borsel deurtrek om die haartjies van mekaar te skei en elkeen met maskara te bedek.

Wimperbasislae en -serums maak ook ’n groot verskil. ’n Wimperbasislaag laat elke haartjie dikker lyk, terwyl ’n wimperserum aktiewe bestanddele bevat wat die haartjies versterk en vog inseël sodat dit nie maklik breek nie.

Probeer dié produkte:

1. Die klein borsel van L'Oréal Paris False Lash Wings Sculpt Mascara (R200) maak dit maklik om jou wimperhaartjies van wortel tot punt met maskara te bedek.

2. Kasterolie en vitamiene in Sisley So Volume 3D Fortifying Mascara in Deep Black (R642) versterk terselfdertyd jou wimpers sodat dit minder uitval. By uitsoektakke van Edgars Beauty

3. Dié waterbestande maskara skep in een veeg volume, lengte en krul – WBeauty 3-in-1 Waterproof Mascara (R180). By Woolworths