#6 Parmantige kort kapsels

TOE

In die verlede is korter kapsels veral in tye van omwentelinge gesien. Dink maar aan die roaring twenties en swinging sixties toe vroue hul stem dik gemaak het vir vryheid en gelyke regte.

Vroue het in die jare twintig hul hare in ’n bob gesny om te wys hulle kan maak soos hulle wil en in die bevrydende jare sestig het die Britse model Twiggy en die gewilde androgene voorkoms van die tyd gesorg dat die pixiestyl koning kraai.

’n Korter haarstyl wys jy is selfversekerd en kan jouself laat geld, maar dié snit bly ’n immergroen staatmaker omdat daar soveel opsies is. Of jy ’n lang bob, kort bob, ’n bob in lae, met of sonder ’n kuif, of ’n pixiesnit wil dra, daar is ’n kort haarstyl wat by jóú gesigvorm, haartipe en ouderdom pas.

FOTO Instagram / Sixties Decade

NOU

’n Hele paar plaaslike bekendes dra tans hul hare kort en bied hope inspirasie: Rolanda Marais, Elana Afrika-Bredenkamp, Nadia Valvekens en SARIE Voorbladgesig 2018, Emari Gieselbach.

In Hollywood spog aktrises soos Kristen Stewart, Scarlett Johansson en ons eie Oscar-wenner Charlize Theron reeds geruime tyd met korter hare.

Kies ’n pixiestyl met tekstuur as jy ’n ovaal of lang gesigvorm het. ’n Langer snit met sagte lae sal weer ’n vierkantige gesigvorm versag, terwyl ’n kort snit met ’n kantkuif mooi lyk met ’n hartvormige of ronde gesig.

FOTO Instagram / Rolanda Marais

Probeer dié produkte:

1. As jy ’n pixiestyl dra, gebruik ’n haarwaks soos Authentic Beauty Concept Solid Pomade (R410) om tekstuur te skep. By uitsoeksalonne

2. Dié produk dien as ’n sjampoe en opknapper in een en help om produk-residu wat in jou hare opbou, behoorlik te verwyder, terwyl dit ook jou kopvel streel en bevog – INOAR Sensitine (R560). By uitsoeksalonne of www.inoar.co.za

3. Korter hare het dikwels meer vog nodig omdat dit meer gestileer word. Gebruik weekliks die masker Garnier Ultimate Blends The Nourishing Repairer Balm (R80).