#4 Wen-wenkbroue

TOE

Van potloodstrepie-dun gepluk tot vol en welig; met ’n oordrewe boog tot byna reguit; natuurlik en ongetem tot donker ingevul en netjies gekam ... wenkbrou- tendense het oor die jare gereeld en vinnig verander.

Dit is te verstane, want volgens kenners is wenkbroue die belangrikste gelaatstrek van jou gesig wanneer dit by die uitdrukking van gevoelens kom. Na gelang van hoe dit gevorm en gekleur is, kan jou wenkbroue ’n reuse-verskil aan jou voorkoms maak.

Veral dikker wenkbroue help om jou gesig meer herkenbaar te maak omdat dit soveel meer uitstaan. G’n wonder so baie ikoniese skoonhede – dink maar aan Lauren Bacall, Audrey Hepburn, Elizabeth Taylor, Brooke Shields en Cindy Crawford – en deesdae ook Cara Delevingne en Lily Collins is bekend vir hul wenkbroue nie.

FOTO Instagram / Ms Lauren Bacall

NOU

Goedversorgde, dikker wenkbroue wat net effens skuins loop, komplementeer die meeste vroue se voorkoms en laat hulle boonop jonger lyk.

Vanjaar word wenkbroue net liggies ingevul en opwaarts gekam vir ’n natuurlike, “donserige” tekstuur.

Op’n onlangse besoek aan Suid-Afrika het die Hollywood-grimeerkunstenaar Sir John ’n interessante wenk gedeel om dié voorkoms in ’n japtrap te skep: “Vee ’n wenkbrouborsel oor ’n koekie seep tot dit heeltemal met seep bedek is en kam dan jou wenkbroue skuins en opwaarts met die borsel.” Die wasagtige tekstuur van die seep laat wenkbrouhaartjies voller lyk en dit bly heeldag só in plek.

FOTO Instagram / Lily Collins

Probeer die produkte:

1. ’n Unieke sponspunt vul jou wenkbroue met ’n fyn poeier in sodat dit weliger lyk – Maybelline Brow Satin Brow Pencil (R130).

2. Danksy galambotter en druiwepitolie tem en voed Elizabeth Arden Statement Brow Defining Gel (R290) jou wimpers.

3. Die alles-in-een-produk bevat als wat jy nodig het om jou wenkbroue in te vul en netjies in plek te kam en hou – Sorbet Take A Brow Pocket Brow Bar (R180). By Clicks