VAN GROEN NA BLOU 

Al gehoor van “blou skoonheid”? Dié term verwys na die groeiende vraag na produkte wat nie skadelik is vir ons oseane of waterbronne nie. Dit sluit in produkte met minimale plastiese verpakking, minder chemiese bestanddele wat waterbronne besoedel en koraalvriendelike sonskerms.

VOLHOUBAAR MOOI

Volhoubaarheid is ’n gonswoord in byna elke bedryf wêreldwyd. Dis meer as net ’n trend, maar ’n beweging; ’n leefstylbesluit. “Jy hoef net met een ‘groen’ produk in jou skoonheidskas te begin om klaar ’n verskil te maak,” sê Jesslynn Shepherd, stigter van die plaaslike organiese velsorgreeks Lulu & Marula.

MINDER AFVAL 

Verpakkings wat herwinbaar, hervulbaar of bio-afbreekbaar is, help om die hoeveelheid rommel wat op stortingshope beland te verminder. In elke winkel van die skoonheidshuis Rain Africa is daar stasies waar jy badsout en vloeibare seep kan hervul. Die velsorghuis Optiphi bied ook ’n inisiatief waar jy beloon word met ’n gratis reiniger vir elke 10 leë Optiphi-produkhouers wat jy by jou naaste verskaffer ingee vir herwinning.

MINDER WATER

Om die hoeveelheid water wat tydens die vervaardiging van skoonheidsprodukte gebruik word te verminder, kies sommige skoonheidshuise om bv. hul reinigers, afskilferaars en maskers in poeiervorm aan te bied. Net sowat ’n eetlepel vloeistof is dan nodig om dit tuis te “aktiveer”.


HOERA VIR KOEKIE SEEP 

Die Britse skoonheidshuis Lush is een van die grootste voorstanders van skoonheidsprodukte in ’n stafievorm en spog met onder meer soliede lyfwasse, -botters, -olies en selfs sjampoes en opknappers. Dié sogenaamde “kaal” produkte het min tot geen verpakking nodig nie en bevat dikwels ook nie chemiese preserveermiddels nie.

1. Die verpakking van GOSH Chameleon Foundation (R295) is gemaak van plastiekrommel wat uit die see gehaal is. By Edgars, Truworths en Foschini

2. Vir afskilfering, meng Skin Creamery Facial Cleansing Powder (R341) met ’n bietjie water of selfs rou heuning. Besoek skincreamery.co.za vir verskaffers

3. Galam- en kakaobotter is superbevogtigend in Lush Scrubee Body Butter (R135). By Lush-winkels landwyd