MY MOOIMAAKFILOSOFIE

My benadering tot my skoonheidsroetine is soortgelyk aan hoe ons op die plaas na die vrugtebome se wortelstokke omsien. ’n Doeltreffende velsorgroetine vorm die boustene van ’n volhoubare skoonheidsroetine.

SÓ SPAAR EK TYD

Velsorg is bo-aan my prioriteitslys. As jou vel gesond is, is min grimering nodig om op jou beste te lyk. Die orige produk op my grimeerborsels van ’n vorige aanwending is dan voldoende om net vinnig my gesig op te helder en af te rond. Ek gebruik ’n vloeibare onderlaag en kleur my wenkbroue in sodat dit netjies en effens donkerder is. Dit help om my gesig mooi te raam. Ek rond alles af met net ’n tikkie blosser, ’n paar lae maskara en lipglans.

Amy Kleinhans-Curd vir SARIE se Augustus 2019-uitgawe. FOTO Leana CR

RAAD VIR ONDERLAAG BO 50

Kies onderlaag wat van hoë gehalte is en jou velkleur komplementeer. Dit skep ’n mooi, egalige basis om op te bou. Ek is mal oor onderlaag wat my vel ’n glansende, douerige afwerking gee. Dit laat jou vel gesonder en meer gevoed lyk. Vir ’n ekstra hupstoot voeg ek sommer ’n druppel serum by my onderlaag. My gunsteling is Bobbi Brown se Skin Long-Wear Weightless Foundation.

MY BESTE GRIMEERWENK

Goed versorgde lippe doen die praatwerk. Wanneer jy in ’n gesprek is, is mense geneig om op jou mond te fokus. Daarom is dit belangrik om seker te maak jou lippe is altyd versorg en afgerond. Ek verkies ’n rosige pienk lipglans. Dit bevog my lippe en skep ’n gevoel van varsheid.

TOP-BEHANDELING

Gereelde salonbehandelings doen wondere vir jou velgesondheid. Amy se gunsteling is die 365 Active Skin Workout Treatment (R600) by Sorbet-salonne.

AMY SE 3 TOP-PRODUKTE

1. Die Bobbi Brown Skin Long-Wear Weightless Foundation SPF 15 (R665) bevat natuurlike mineraalpoeier wat oortollige olierigheid absorbeer en sysag op jou vel voel.

2. ’n Vloeibare pienk lipstiffie met ’n bruin ondertoon wat by alle velkleure pas – Bobbi Brown Crushed Liquid Lip in Juicy Date (R395)

3. ’n Goeie serum help om ’n egalige “skilderdoek” vir grimering te skep. Probeer die kragtige 365 Skin Workout Specialised Retinol Refirm (R995). By Sorbet-salonne