Daar is net iets omtrent ’n heerlike geur wat op jou vel draal. Nie net skep dit ’n blywende, onweerstaanbare indruk nie, maar dit gee jou selfvertroue ’n hupstoot en kan jou bui beïnvloed. 

Diana Rankin, geurkenner en eienaar van Perfume Power op Somerset-Wes stem saam. Diana verwys na die agt voordele wat geur inhou. Dit verlig gevoelens van irritasie, stres, depressie sowel as apatie en verhoog gevoelens van geluk, sensualiteit, ontspanning en stimulasie.

Volgens aromaterapie navorsing, is daar verskeie reuke wat opbeurend is:

1. Sitrus

Bergamot help om angs te verlig en om beter te kan slaap. Suurlemoen is kalmerend en help om gevoelens soos woede en uitputting teen te werk. Boonop is dit jou antwoord vir wanneer jy verkoue het en jou immuunsisteem ’n hupstoot benodig.

2. Laventel

Dis ’n gewilde essensiële olie wat jou kalmeer en help om emosionele stres beter te hanteer. Dit het ook ’n positiewe impak op jou senuweestelsel en kan spanning help verlig.

3. Jasmyn

Die pragtige blomgeur dien as ’n anti-depressant met opbeurende eienskappe wat jou selfvertroue, optimisme en energie verhoog. 

4. Vanielje

Baie mense vind aanklank by dié heerlike geur. Dit kan help om rusteloosheid en hiperaktiwiteit te verminder. Dit help ook om gevoelens van angs en depressie teen te werk en om ’n ontspanne atmosfeer te skep.

5. Ongewone geure soos babapoeier, gebak, sonskerm en die reuk van ’n geliefde

Babapoeier herinner aan ons jeug en skep ’n gevoel van nostalgie wat ons veilig en beskermd laat voel. Gebak is geneig om ons ontspanne te laat voel. Sonskerm is sinoniem met reis en vakansie wat ons rustig en gemaklik laat voel. Die reuk van ’n geliefde gaan gepaard met die gevoel van verliefdheid en bekendheid, dit het ’n baie positiewe invloed op ons bui.

FOTO Instagram / Dior Parfums

Slim wenke om parfuum gedurende die kouer maande te dra:

  • Diana raai aan dat parfuum-olies meer houkrag as parfuum met ’n alkoholbasis het en daarom ideaal is vir die winter. As jy nie olie het nie, wend eers ’n reukvrye lyfroom aan voor jy jou parfuum aanwend. Dit sal help dat die reuk langer hou.
  • Die nuutste internasionale gier is om jou parfuum op jou naeltjie te spuit, probeer dit!
  • Spuit parfuum op jou hare, dit sal langer hou.
  • Speel bietjie en meng verskeie geure op jou vel. Jy kan maklik ’n unieke vermenging skep wat jou sal komplementeer.

*Diana Rankin bied parfuumwerkswinkels aan en is gereeld ’n gasspreker oor die wêreld van geur en parfuum by korporatiewe en privaat geleenthede. Besoek perfumepower.co.za.