Die afgelope paar jaar neem wenkbroue die skoonheidsindustrie oor. Hoe weliger en natuurliker, hoe beter. Ons probeer ons bes om die dae van yl geplukte wenkbroue wat potloodstrepie-dun is, te vergeet!

SARIE se skoonheidsredakteur, Monica van der Walt, het op SARIE.com verduidelik hoekom wenkbroue ons belangrikste gelaatstrek is. “Grimeerkunstenaars beklemtoon gereeld hoe belangrik dit is om nie jou wenkbroue af te skeep as jy grimeeer nie. Dit raam jou gesig en rond jou voorkoms af.” Lees meer hier.

FOTO Getty Images / Gallo Images

Met die fokus op wenkbroue, is wonderlike tegnieke soos microblading, microshading en selfs wenkbrou-verlengings met ope arms verwelkom. Dié tegnieke het bewys dat dit nie nodig is om ons strewe na voller wenkbroue alleenlik in Moeder Natuur se hande oor te laat nie. 

Maar aangesien van hierdie tegnieke tatoeëerkuns inspan, duur is of gereelde besoeke aan jou skoonheidsterapeut impliseer, is dit nie almal se eerste keuse nie.

Die nuutste, ingreepsvrye alternatief is brow lamination wat einde verlede jaar in Rusland begin kop uitsteek het. Bekendes soos Simoné Pretorius en Melinda Bam is gaande oor dié tegniek. “Dit is min maintenance. Dit hou die haartjies in plek en lyk lekker ongetem, soos jong tienerwenkbroue,” sê Simoné.

FOTO Instagram / Simoné Pretorius
FOTO Instagram / Melinda Bam

Wat is dit?

Dis ’n semi-permanente oplossing wat lyk asof jy wenkbroujel aangewend het of jou wenkbroue met ’n koekie seep opwaarts gekam is. Die tegniek skep ’n gladde, sagte voorkoms wat jou wenkbrouhaartjies effens opwaarts lig.

Dís jou antwoord vir verdunning, yl geplukte wenkbroue en as jy met gapings tussen jou wenkbrouhaartjies sukkel, maar óók as jou wenkbroue welig is en jy sukkel om dit mooi in plek te hou.

Die skoonheidswebblad Allure berig aanlyn dat dit slegs ’n uur neem om jou mooiste wenkbrouvoorkoms te skep. Dis ’n tydelike en bekostigbare oplossing vir wenkbroue met impak.

Hoe werk dit?

Die proses maak dit moontlik om sonder die inspanning van ’n naald of semi-permanente grimering pragtige wenkbroue te skep. Brow lamination kan die boog effens lig, jou wenkbroue verleng en ’n voller voorkoms skep.

’n Room word eerstens aangewend wat ’n chemiese reaksie veroorsaak en die proteïen-verbindings van elke haar versag sodat die wenkbrouhaartjies makliker in die gewensde plek of rigting gekam kan word. Die wenkbrouhaartjies word nou in die gewensde vorm en rigting gekam met ’n spesiale room wat dit set sodat dit mooi in plek behoue bly. ’n Voedende olie word aangewend om verlore vog in te seël en die proteïen-verbindings te versterk. Die behandeling word met keratien verryk.

View this post on Instagram

Applying the setting solution to my brows

A post shared by Glamour Testing (@glamour_testing) on

Jou wenkbroue kan tydens die behandeling ook getint, gepluk of gewaks word om die voorkoms mooi af te rond. 

Hoe lank hou dit?

Dit hou sowat twee maande.

Wat kos dit?

Die Erika Davis Academy in Centurion vra R550 vir ’n brow lamination en tint.

RefectoCil, ’n gewilde handelsmerk wat wimper- en wenkbrouprodukte vervaardig, het nou ook salonprodukte vir brow lamination bekendgestel. Besoek www.refectocil.co.za om ’n salon in jou omgewing wat RefectoCil brow lamination doen, op te spoor.

Onthou

Die vel rondom jou oë en wenkbroue is dunner en daarom is dit belangrik om die area goed te versorg om irritasie, droogheid en inflammasie na die behandeling te vermy. 

Net soos die gebruik van chemiese middels ons hare op ons kopvel kan beskadig wanneer ons dit byvoorbeeld bleik of kleur, is dit belangrik om jou skoonheidsterapeut te raadpleeg oor die beste manier om voldoende voor- en nasorg te tref wat jou wenkbrouhaartjies nie op die langtermyn sal beskadig nie.

Bronne: www.allure.com, www.glamour.com, www.instyle.com

View this post on Instagram

When the magic happens... Brow Lamination by Anca??

A post shared by Brow Bar London (@browbar_london) on