Min dinge het so ’n kragtige impak soos rooi lipstiffie. Net een veeg laat jou bemagtig, avontuurlustig en begeerlik voel. Vir baie vroue is dit ’n manier om hulself op te kikker in veral moeilike tye, wys navorsing.

Radio- en TV-aanbieder Elma Smit stem saam. “Ek lewe vir ’n rooi lip. ’n Goedversorgde voorkoms en ’n opgewekte bui is ’n vereiste van my werk. ’n Helderrooi lipstiffie doen wondere om my gemoed te lig sodra ek voor die kameras moet verskyn,” sê sy.

Buiten haar mooi vel en welige hare is Elma al bekend vir haar staatmaker-lipstiffiekleur: rooi. ’n Blondine met die lyf van ’n model, en die feit dat sy dikwels die jongste persoon op stel was, het gemaak dat sy nog altyd hard moes werk om haar in die werkplek te laat geld, vertel sy. Dís toe sy die krag van rooi lippe ontdek het.

“Met rooi lipstiffie is jy nie besig om enigiets te verbloem nie. Dit eien ’n plek in die gesprek sonder om hard te praat, stuur ’n boodskap uit dat jy nie terugstaan nie. Maar terselfdertyd sê dit jy neem jouself nie té ernstig op nie. Dís ook wat ek raaksien wanneer ek ’n ander vrou met mooi rooi lippe gewaar.”

By helderrooi lippe hoef jy gewoonlik nie veel ander grimering te dra nie. Gebruik net ’n bietjie onderlaag om die nodigste te verbloem, wend ’n paar lae maskara aan, en kam jou wenkbroue netjies. Rond alles met jou gunstelingrooi lipstiffie af. “Dit hoef ook nie noodwendig altyd ’n knalrooi skakering te wees nie. ’n Sagter rooi werk net so goed,” sê Elma.

Wenk:

Kies kersierooi, wat ’n blou ondertoon het, vir ’n donkerder velkleur en ’n rooi met ’n effense oranje ondertoon vir ’n ligter vel. 

FOTO: Marijke Willems

Wenk: ISA CARSTENS AKADEMIE

Verbeter fyn lyntjies om jou mond deur vir ’n radiofrekwensiebehandeling te gaan. Soos wat jou vel verhit, stimuleer dit kollageen om saam te trek. Dit sorg vir ’n plomper, fermer vel. www.isacarstens.co.za