Ons manne maak mooi! En nie net met ’n gesigroompie hier en ’n haarsny daar nie. Mans betree ook ál meer die wêreld van estetiese behandelings, vir enigiets van chemiese afskilfering tot laserhaarverwydering en mikronaaldbehandelings.

Volgens dr. Anushka Reddy, ’n estetiese dokter by die Medi-Sculpt- kliniek in Johannesburg, is dit veral mans met ’n loopbaan in die korporatiewe wêreld wat by haar kom aanklop.

FOTO Unsplash / Vinicius Amano

“Hulle hou daarvan om beheer te neem van hul voorkoms en wil soos hul beste self lyk.” Yolandé Swanepoel, hoof van programontwikkeling by die Isa Carstens Akademie, beaam dit. “Danksy sosiale media en werklikheidsprogramme op TV is mans meer bewus van hoe hulle lyk en boonop ingelig oor die talle nie-indringende behandelings wat beskikbaar is. Die samelewing se ingesteldheid op ’n gesonder leefwyse is ook ’n dryfveer agter die behoefte by mans om so goed te lyk soos wat hulle voel.”

#1

Inspuitings soos botulinum (Botox) en vullers

WERK GOED VIR

Fronslyne op die voorkop en tussen die oë; ’n kakebeen wat hang

SÓ WERK DIT

“Baie mans wat my kliniek besoek, kla dat die dieper fronslyne tussen hul oë en op hul voorkop hulle permanent gestres of nors laat lyk. Deur botulinum op dié dele te gebruik versag die lyne en sorg dit vir ’n vars en ontspanne voorkoms. Dit laat hulle vriendeliker lyk,” sê dr. Reddy. Vuller-inspuitings om ’n kakebeen wat “hang” te behandel, is ook gewild.

’n Jelformule met hialuronsuur word op strategiese plekke op die kakebeen en ken ingespuit om dit te definieer en die beenstruktuur te versterk. 

Mans hou daarvan, want: Met vullers is die resultate dadelik sigbaar en met botulinum binne twee tot drie weke. Die behandelings is boonop vinnig en gerieflik. ’n Sessie duur net sowat ’n halfuur met byna geen hersteltyd nie en kan in jou etensuur gedoen word. Pryse vanaf R1 750 per sessie

Ons moenie die impak onderskat van ’n goedversorgde voorkoms op ’n man se selfvertroue en ambisie nie
Dr. Anushka Reddy, estetiese dokter van Johannesburg

#2

Chemiese afskilfering

WERK GOED VIR

Vergrote porieë, olierigheid, ’n growwe veltekstuur

SÓ WERK DIT

Mans se vel is oor die algemeen olieriger as ’n vrou s’n en dit lei dikwels tot vergrote porieë. Hulle is ook geneig om ’n growwer veltekstuur te hê. ’n Gereelde chemiese afskilferingsbehandeling (peel) met ’n hoë konsentrasie sure, soos glikol-, melk- en salisielsuur, verbeter dié kwessies deur die dooie selle op die oppervlak van die vel te verwyder sodat dit onmiddellik gladder en helderder lyk.

Veluitslae word ook beter in bedwang gehou. Hoe hoër die konsentrasie sure, hoe dieper werk dit in jou vel, en selfs lyntjies, sonskade en pigmentasie kan verminder word.

Mans hou daarvan, want: Dis ’n goeie bekendstelling vir dié wat graag ’n gevorderde skoonheidsbehandeling wil probeer, maar onseker is oor waar om te begin. Dit teiken meer as een kwessie op ’n slag en is goed vir algemene velgesondheid. Pryse vanaf R520 per sessie

* Bron: 2018 Plastic Surgery Statistics Report deur die American Society of Plastic Surgeons

’N MAN SE VEL . . .

. . . is dikker as dié van ’n vrou. Lyntjies en plooie neem daarom langer om te wys.

. . . bevat meer kollageen, wat beteken dis fermer.

. . . vervaardig meer sebum, wat die kans vir aknee en vergrote porieë verhoog.. . . is meer geneig tot sensitiwiteit as gevolg van skeer en omgewingsfaktore.

. . . ’n Man se vel is gemiddeld dikker as ’n vrou s’n

#3

Plaatjieryke plasmabehandeling (PRP)

WERK GOED VIR

Die stimulering van haargroei

SÓ WERK DIT

Dié behandeling is deesdae baie gewild onder mans om vroeë haarverlies vanweë genetika te behandel, sê dr. Nadia Dannhauser, estetiese dokter by For Beautiful Life Medical Aesthetics in Johannesburg.

Tydens die behandeling word jou bloed getrek en dan vinnig in ’n toestel gespin om die geel, bloedplaatjieryke plasma van die res van die bloed te skei. Die plasma, wat groeihormone bevat, word dan ingespuit in jou kopvel (’n verdowingsroom kan help om die pyn te verlig), waar dit die haarfollikels stimuleer en haargroei bevorder.

’n Reeks behandelings versprei oor sowat ’n jaar lewer die beste resultate.

Mans hou daarvan, want: Die behandeling is veilig, nie-indringend en lewer merkbare resultate oor tyd. Dis ook ’n voorkomende behandeling wat ingespan kan word in die plek van duurder, meer indringende prosedures (soos haaroorplanting) later in ’n man se lewe, sê dr. Dannhauser.Pryse vanaf R2 800 per sessie

SA MANS SE GUNSTELINGE 

Bobby van Jaarsveld, sanger en gesig van Kalahari Lifestyle

Ek hou daarvan om elke nou en dan vir die plaaslike velsorghuis Kalahari Lifestyle se mikronaaldbehandeling te gaan. Dit stimuleer jou vel om nuwe kollageen te vervaardig sodat jy jonger lyk. Die hialuronsuurserum wat saam met die behandeling gebruik word, bevog ook my droë vel.

FOTO Instagram / Bobby van Jaarsveld

Fanie Cronjé, SARIE se styl- en sosiale redakteur

Ek gaan so elke vier maande vir ’n pixel peel. Dis al wat my taai, olierige vel, wat geneig is tot puisies, vars en gesond hou. Die behandeling is ’n kombinasie van chemiese afskilfering met trichloorasynsuur (TCA) en ’n mikronaaldbehandeling. Só penetreer die suur dieper om ook selvernuwing in die onderste lae van die vel te stimuleer.

FOTO Instagram / Fanie Cronjé

Reynardt Hugo, akteur bekend vir sy rol in die sepie Binnelanders

My gesig is my brood en botter, daarom volg ek al sedert hoërskool getrou ’n goeie velsorgroetine. Omdat ek op stel daagliks grimering moet dra, hou ek van pHformula se Rejuvenating and Skin Brightening-behandeling met vitamien C om ’n moeë en vaal vel te verhelder. My vel voel net wonderlik ná die tyd.

FOTO Instagram / Reynardt Hugo


PROBEER DIÉ PRODUKTE

1. Die Exuviance Detox Mud Treatment (R895) trek onsuiwerhede uit die vel en absorbeer oortollige sebum. By uitsoeksalonne en estetiese klinieke 

2. Dié vogroom se ligte tekstuur trek vinnig in die vel in en beskerm teen omgewingsaanslae – Lamelle Nourish Revitalise Lite (R525). By uitsoeksalonne

3. Ná ’n behandeling is jou vel meer sonsensitief. ’n Sonskerm met ’n hoë SBF soos Kalahari SPF 40 High Sun Protection (R322) is dus ’n moet. By uitsoeksalonne en -spa’s 

4. Kafeïen in Alpecin Caffeine Shampoo C1 (R110) stimuleer haarwortels om beter te groei. By Dis-Chem en Clicks