In die huidige staat van inperking is ’n naelsalon die laaste plek wat jy oop sal kry. Soos wat jou jelnaels uitgroei en jou natuurlike naels al hoe sigbaarder word, plaas die manikuur druk op jou naelbed. Boonop kan langer naels dit moeiliker maak om eenvoudige take te verrig.

ONTHOU

Moenie jou jelnaels self probeer aftrek nie. Dit sal die boonste laag van jou naels beskadig, wat jou naels dun en bros sal maak. Dit kan weke neem voor jou naels weer behoorlik herstel.

Volg dié stappe:

1. Vyl die boonste laag af

Die proses is eintlik heel eenvoudig. Neem ’n naelvyl en vyl die boonste, blink laag van jou manikuur af. Dié laag seël die manikuur en dis waarom dit heeltemal afgevyl moet word. Die manikuur sal grof en dof wees wanneer die boonste laag afgevyl is.

As jy hierdie stap deeglik doen, sal die res van die proses makliker wees en die manikuur vinniger afkom.

FOTO Instagram / Olive & June

2. Week jou naels

Maak seker dat jy 10 ronde watte, 10 stukkies foelie en naelverwyderaar byderhand het. Elke wattetjie moet met naelverwyderaar deurweek word. Plaas dan die nat watte oor jou nael en druk jou vingerpunt met ’n stukkie foelie toe. Wag vir so 15 minute voor jy dit afhaal. 

WENK
Vra iemand om jou met die proses te help. Dit kan moeilik wees om dit self te doen.

3. Verwyder die manikuur

Neem ’n haartangetjie of tandestokkie om die manikuur sagkens af te haal. Tandestokkies werk beter, want die metaal van die haartangetjie kan jou naels beskadig. Die manikuur sal vanself lig en maklik afkom. As daar plekke is waar dit nie afkom nie, moet dit nie aftrek nie. Neem weer ’n wattetjie met naelverwyderaar en hou dit vir so paar minute op jou nael. 

FOTO Instagram / Olive & June

4. Voed

Wend kutikelolie of handeroom aan om jou naels te voed en bevog. As jy nie ’n produk het wat vir jou hande of naels geformuleer is nie, gebruik enige voedende room of olie. Jy kan ’n beskermende bolaag aanwend wat jou naels mooi sal afrond.

Bronne: www.harpersbazaar.com, www.refinery29.com, www.instyle.com