Marijke Coetser is bekend vir haar rol as Maryke de Villiers, in die sepie Getroud Met Rugby. Marijke is nie net ’n mooigesig nie, vir haar is gesondheid, dieet en oefening baie belangrik. Die SARIE-Skoonheidspan het met Marijke oor haar gesondwees- en mooilyk-gewoontes gesels. Hiér is van haar top-wenke.

#1 Ek glo in ’n gebalanseerde en gesonde leefstyf

Ek glo nie in “quick fixes” nie. My eet- en oefen program vorm deel van my alledaagse lewe en dis vir my ’n leefstyl.

#2 Ek oefen ongeveer 6 keer per week

Ek is baie lief vir oefen. Ek het in ’n aktiewe huis groot geword waar my hele gesin muurbal gespeel het. Ek het 30 jaar gedans en daarna het ek baie meer tyd in die gimnasium begin spandeer. Van kardio, muurbal en swem tot gewigte. Ek roteer my spiergroepe sodat elke spier kans kry om te rus. 

#3 Ek eet elke 3 ure

Ek eet klein porsies gesonde kos wat ek vooraf weeg. Ek sluit nie koolhidrate uit nie, ek eet gesonde koolhidrate soos basmati- of bruin rys en soetpatats. Ek het die energie nodig om te oefen. Ek sny suiker uit en vervang dit met klein bietjie heuning. Ek drink baie water en sny gaskoeldrank uit. Ek werk hard gedurende die week en ek glo definitief in bietjie plesier oor naweke. Tydens die naweek sal ek ’n glasie rooiwyn, pizza of sjokolade geniet.

#4 ’n Goeie verfrisser is belangrik

Ek dra elke dag baie grimering. ’n Goeie verfrisser is belangrik. Ek gebruik elke dag Defence Elixage Serum van Bionike.

Bionike Defence Elixage Huile Serum R3 (R699). Beskikbaar by Dis-Chem.

#5 Die belangrikste skoonheidsraad wat ek al gekry het?

Om nooit met grimering te slaap nie! Dis baie belangrik vir jou vel om te rus. Belê in ’n goeie velsorgreeks wat jou sak pas en gereelde gesigbehandelings is noodsaaklik.

#6 Maak seker jou lyf is goed bevog

Ek gebruik Epi-Max se All Purpose Moisturiser. Dis al waarin ek glo. Die lyfroom bevat geen alkohol of parfuum nie.

Epi-Max All Purpose Moisturiser (R65)