Hoe sou ons ooit sonder Google kon klaarkom? Tik jy ’n sleutelwoord of vraag in die soekenjin in, kry jy dadelik wonderlike oplossings en antwoorde.

Google reik jaarliks ’n verslag uit met die gewildste vrae wat verbruikers aanlyn gevra het. En natuurlik het ’n paar skoonheidsvrae ook dié lys gehaal. Dalk het jy al self oor die einste vrae gewonder.

Hier is die top-skoonheidsvrae plus ons antwoorde op elkeen:

#1 Hoe wend jy blosser korrek aan? 

Glimlag sodat jy die appels van jou wange sien. Wend die blosser hier aan en skakeer dit opwaarts na jou haarlyn toe. Dié opwaartse beweging is die geheim. As jy ’n poeierblosser gebruik, wend dit in opwaartse bewegings met ’n blosserborsel aan. Tik ’n roomblosser liggies in sirkelbewegings met jou vinger aan en skakeer dit met ’n grimeersponsie. 

#2 Hoe wend jy vals wimpers aan?

Stap 1

Gebruik ’n knyptangetjie om die vals wimpers uit die verpakking te verwyder. Meet die strook teen jou oog. As die strook langer is as die lengte van jou wimperlyn, kan jy ’n naeltangetjie gebruik en dit effens korter sny, sê Faith Seoue, grimeerkunstenaar en plaaslike kenner van die produkreeks Eylure.

Stap 2

Gebruik ’n oorstokkie om die gom liggies op die wimperstrook aan te wend. Wag vir sowat ’n minuut, tot die gom taaierig voel.

Stap 3

Begin by die buitehoek van jou oog en wend met ’n knyptangetjie die strook so na as moontlik op jou wimperlyn aan. Wag sowat ’n minuut vir die gom om behoorlik droog te word. Die strook behoort stewig teenaan jou wimperlyn te lê.

Stap 4

Wend vloeibare oogomlyner bo-oor die wimperstroke aan, gevolg deur twee lae maskara om jou natuurlike wimpers en die vals wimpers in mekaar te weef, sê Faith.

WENK
Vir nóg drama kan jy ’n knyptangetjie gebruik om ’n paar wimperhaartjies op ’n slag teen mekaar te druk terwyl die maskara nog nat is sodat dit bonkiger lyk. Dié voorkoms is nie vir elke dag se dra nie, maar perfek vir ’n spesiale geleentheid of ’n aand uit.


Stap 5

Om jou vals wimpers weer te verwyder, gebruik ’n olievrye grimeerverwyderaar om die gom te versag. Die vals wimpers sal dan maklik van jou oë afgly.

WENK
As jy nog sukkel met die aanwending van vals wimpers, kan jy ook vloeibare oogomlyner teen jou wimperlyn aanwend en wag tot dit droog is voor jy die strook opplak. Dit help om die strook te verbloem, sê Faith.


#3 Hoe gebruik en wend jy verfrisser aan?

Dis noodsaaklik om jou vel se pH-balans te balanseer. Yolandè Swanepoel van die Isa Carstens Akademie verduidelik die oppervlak van jou vel het ’n beskermende lagie wat uit vog en natuurlike olies bestaan, en dié laag is pH-sensitief. “Die pH van jou vel wissel tussen 4,5 en 6, wat normaal is vir optimale gesondheid en balans. Verskeie faktore kan egter die pH van die vel versteur, soos te veel reiniging, water, blootstelling aan die elemente en lugversorging,” sê Yolandè. Dis dié faktore wat jou vel vatbaar vir vry radikale en bakterieë maak en velprobleme soos droogheid, sensitiwiteit en puisies kan veroorsaak.

Gebruik ’n wattetjie om verfrisser aan jou vel te wend. Vermy jou oog- en liparea. Begin by jou voorkop, neus en ken en beweeg uitwaarts.

Hoekom moet jy dit gebruik?

  • Herstel die pH van jou vel.
  • Voltooi die reinigingsproses deur oorblywende vuiligheid of reiniger van die vel te verwyder.
  • Verbeter die penetrasie van enige produk wat op die vel aangewend word.
  • Bevogtig die vel.
  • Verminder sensitiwiteit.
  • Verfris die vel.
  • #4 Hoe wend jy vloeibare onderlaag aan?

    Wend jou vloeibare onderlaag met twee tipes onderlaagborsels aan. Gebruik eers ’n plat borsel om die onderlaag oor jou hele gesig te versprei. Dié borsel help ook dat jy genoeg onderlaag gebruik sodat jou vel goed bedek is. Poleer dan die onderlaag in klein sirkelbewegings met ’n ronde onderlaagborsel in jou vel in vir ’n foutlose basis.

    #5 Hoe wend jy ’n verbruiningsproduk aan?

    Daar is verskillende tipe verbruiningsprodukte met verskillende formules en daarom is dit noodsaaklik om seker te maak dat jy jou gunsteling-verbruiningsproduk korrek aanwend. 

    FOTO: Instagram/@skinnytan_sa

    Verbruiningsroom (cream of lotion)

    Omdat dit ’n roomtekstuur het, is dit maklik om die produk aan te wend. Die meeste formules is bruin en dit is dus maklik om te sien waar jy dit al aangewend het. Jy het ook ekstra tyd om die produk mooi in te smeer omdat dit langer neem om te absorbeer en droog te word. Wend dit in sirkelbewegings oor jou vel aan met jou hande of ’n sagte handskoen (mitt).

    Verbruiningsmousse

    Dié produk sorg vir donkerder verbruining. Omdat die formule vinnig droog word, kan jy dit laag op laag aanwend vir ’n dieper kleur. Wend dit in sirkelbewegings oor jou hele lyf aan met ’n sagte handskoen.

    Verbruiningsproei

    Dit gee egalige ligte verbruining. Hou die spuitbotteltjie sowat 30 cm van jou lyf en spuit die produk van jou voete tot by jou kakebeenlyn.

    Bron: www.allure.com, www.wellandgood.com