MY MOOIMAAKFILOSOFIE

Elke mens het ’n gelaatstrek wat hulle uniek en mooi maak. Fokus op dié mooi en hoe om dit uit te bring, eerder as om wat vir jou lelik is te verbloem. Omarm wat jou uniek maak. Ek is op skool altyd oor my sproete gespot, nóú maak ek seker dat my sproete en wangbene die fokuspunt van my grimeervoorkoms is.

SÓ SPAAR EK TYD

’n Onderlaag met ’n ligte waterbasis, verbronser en ’n lip-en-blostint is my antwoord wanneer ek min tyd het Ek gebruik net ’n klein hoeveelheid van die onderlaag sodat my sproete steeds sigbaar is. Ek wend dan verbronser net onder my wangbene aan en tik die blostint liggies bo-op my wangbene. Dit skep so ’n mooi, natuurlike gloed dat verligter nie eens nodig is nie. Op my oë skakeer ek ’n brons oogskadu vir ’n subtiele rokerige voorkoms en rond alles af met maskara en ’n neutrale of nude lipstiffie.

FOTO Danielle Klopper

MY MOET-HÊ-PRODUK

Die GOSH Velvet Touch Matt Lipstick in die kleur Antique het my lewe verander! Ek het nooit lipstiffie gedra totdat ek dié skakering gevind het nie. Dit werk by die meeste velkleure en bly heeldag op jou lippe sonder om dit uit te droog.

MY BESTE GRIMEERWENK

Dra minder gesigpoeier soos jy ouer word. Jou vel lyk dan jonger en gesonder. Onthou ook, minder is meer. Daar is wel ’n fyn balans tussen min moeite en geen grimering. ’n Bietjie maskara en blosser verrig wondere!

HAAR TOP-3-PRODUKTE

1. Tik The Body Shop Lip & Cheek Stain in Deep Berry (R170) aan jou lippe en wange vir ’n blosende gloed wat natuurlik lyk - by Clicks beskikbaar.

2. Die formule van M.A.C Studio Face and Body Foundation (R650) het ’n deursigtige afwerking wat jy kan opbou vir meer bedekking.

3. Die GOSH Velvet Touch Lipstick Matte in Antique (R147) is perfek vir alledaagse dra. By Edgars, Truworths en Foschini.