Op 28 Julie vind die volgende #Dinsdagdromer plaas. Ons kuier saam met Donnaleee Roberts, Rolene Strauss en die grimeerkunstenaar Suna Robberts. Ons gaan praat oor selfvertroue, heerlike promosies wag vir #Dinsdagdromers en Suna gaan vir jou ’n paar truuks leer. Kaartjies is slegs R69 per skerm. Bespreek nou jou plek, volg die skakel

Boonop gaan een kyker ’n persoonlike en aanlyn grimeerklas met Suna WEN!

Bekendes soos Karlien van Jaarsveld, Simoné Pretorius en Donnalee Roberts sit gereeld in Suna se grimeerstoel. Vir haar is dit belangrik om wie ook al in haar grimeerstoel sit, op hul beste te laat lyk met ’n grimeervoorkoms wat hul persoonlikheid, styl en smaak komplementeer.

FOTO Instagram / Suna Robberts

Agter die skerms verstaan sy die impak wat kameras en redigering op ’n grimeervoorkoms kan hê en werk daarom baie slim om bekendes voor en agter die kamera te laat skitter. “Dis belangrik dat jy mense goed kan opsom, want dan kan jy baie gou agterkom watter tipe grimering hulle van hou. Dis nie om jou styl en jou opinie op iemand af te druk nie, dit gaan oor om vrae te vra en die persoon te leer ken al is dit in ’n baie kort tyd.” 

Die SARIE-skoonheidspan het met Suna oor haar passie vir mooimaak gesels. 

1. Wat is vir jou die grootste beloning as grimeerkunstenaar ?

Vir my is daar niks so lekker as om iemand se gesig te doen en te sien dat hulle gelukkig is daarmee nie. Dit is vir my verskriklik vervullend. Om die beste uit iemand uit te haal, om hulle mooi features te vat en dit te enhance. Om mooi te maak en om te sien dat dit iemand gelukkig maak. 

FOTO Instagram / Suna Robberts

2. Wat moet jy in ag neem as dit by ’n sekere tipe geleentheid kom?

As dit ’n geleentheid is wat afgeneem word soos ’n troue, moet jy altyd kyk na wie die fotograaf is. Wat is hulle styl, want fotograwe edit anders, party hou van ’n baie sagte look en party hou meer van drama. Dit beteken as hulle gaan edit dan maak hulle byvoorbeeld die kontras baie sterk en dan lyk jou grimering onmiddellik donkerder.

So jy moet vooraf seker maak vir wat is dit, as dit vir ’n funksie is, kan jy die grimeervoorkoms vir hulle doen soos wat hulle dit wil hê. Andersins moet jy vir hulle byvoorbeeld sê, daai look kan dalk ’n bietjie donkerder vertoon so kom ons gaan so bietjie sagter met die grimering of kom ons gaan bietjie sterker want hierdie fotograaf gebruik baie sterk lig.

3. Die drie moet-hê-grimeerprodukte wat in enige vrou se grimeersakkie hoort?

Ietsie vir jou vel, so jou onderlaag is belangrik. Al is dit net ’n lekker bb-room of as jy meer van ’n swaarder onderlaag hou. Definitief lipstiffie, as jy die regte kleur kies kan jy dit gebruik as ’n blosser, jy kan selfs so bietjie daarvan op jou oë sit en dan natuurlik jou lippe. Vir jou oë om dit nog meer te enhance, ’n maskara! 

4. Grimeertendense wat begin voelers uitsteek?

Kleur kom terug! Baie mense eksperimenteer met kleur soos bloue en pienke saam, bloue en perse saam, groen en koraal saam. 

5. Waarna kan mense uitsien met die volgende #Dinsdagdromer?

Na wenke wat vir jou gaan wys hoe om jou oë lekker donkerder te maak vir ’n aand uit, net so bietjie uit jou comfort zone uit te klim en net so bietjie ietsie anders te probeer as waaraan jy gewoond is. Dis altyd goed om uit jou comfort zone uit te klim, sodat jy kan groei. Ek wil almal motiveer om ietsie te probeer wat hulle dalk nog nooit probeer het nie.

FOTO Hanri Human / Aglow Photography / Shanay Greene

Suna het bekende bruide soos Amalia Uys, Simoné Pretorius en Donnalee Roberts se grimeervoorkomste gedoen. En wie kan nou hierdie treffende bruide op hul spesiale dag vergeet? Suna het met elkeen van die bruide die hele prentjie perfek en tydloos afgerond. Ons het vir Suna gevra om so bietjie oor elkeen se grimeervoorkomste te gesels ...

Simoné Pretorius

FOTO Shanay Greene

Simoné het in Valentynsmaand verlede jaar met haar sakeman-kêrel van Pretoria, Andries Pretorius, getrou. Op die Lunikhy-wildplaas buite Bela-Bela het die Bosveld die paartjie gekoester met die beste uit dié wêreld: ’n perfekte sonsondergang en lang kuiertafels met kerse en liggies wat die onthaal in ’n sprokie omskep het.

FOTO Shanay Greene

Suna het bruine met ’n warm, effense koraal ondertoon op Simoné se oë gebruik. “Dit was nie baie sterk ooggrimering nie en dan het sy ook ’n sagter lippie aangehad. Haar lipkleur was amper soos die skakering van natuurlike lippe, maar intensified. Sy hou ook nie van blosser nie, so ek het haar saggies gecontour en net ’n klein bietjie blosser aangesit.”

Donnalee Roberts 

SARIE Bruid 2019 se voorblad / FOTO Aglow Photography

Donnalee Roberts en Ivan Botha se herfstroue op die Blaauwklippen-wynlandgoed buite Stellenbosch was ’n uitgerekte lekkerte wat oor twee dae gestrek het. 

Die Vrydagaand is die romantiese plegtigheid gehou met troubeloftes en liefdesbriewe. SARIE BRUID 2019-’20 spog met die Saterdag se intieme langtafelete. Dié tweede dag van die troue was ’n boheemse ruk-en-rol-feesviering.

FOTO Aglow Photography

“Sy hou nie van verskriklike swaar grimering op haar gesig nie, veral nie op haar oë nie. Sy het ’n donkerder lip gedra en dit het so mooi by daai amper boheemse, free spirited feel van Donnalee gepas. Donnalee het ’n moesie aan die boonste regterkant van haar wangbeen wat haar egtheid en wie sy is verteenwoordig. Sy sê altyd ons moenie daai moesie toemaak nie. So ek het so bietjie eyeshadow daar opgesit sodat dit daai moesie enhance. Haar ooggrimering was twee skakerings van bruin: ’n donkerder bruin en ’n sagter bruin.”

Amalia Uys

FOTO Hanri Human

Met haar melkwit vel, bloedrooi hare en kristalkroon het die Afrikaanse aktrise Amalia Uys soos ’n ysprinses gelyk. Die beeldskone bruid is op Saterdag 9 Desember 2017 in 'n populierbos buite Robertson getroud.

Voor 150 gaste het Amalia en haar geliefde, Shaun Golding, onder die bome van die Pat Busch Mountain Reserve ewige trou aan mekaar beloof.

FOTO Hanri Human

“Ek is mal oor Amalia se melkvel en dit is hoekom daai kontras van die donkerder grimering met daai amazing rok en daai ligte vel vir my só mooi was. Ons het gekyk na berry tones, ek was mal daaroor saam met haar rooi hare. Ek het ’n berry tipe rokerige voorkoms op haar oë gedoen wat gegaan het van sag in die middel na lekker donker aan die buitekant. Dan het ek vir haar ’n wynrooi lipstiffie aangewend en dit ’n subtiele ombree-voorkoms gegee en dan in daai selfde skakering blosser aangewend.” 

“Sy het die mooiste rookoë gemaak. My donker lippe het my look perfek afgerond,” het Amalia oor dié ikoniese voorkoms gesê.

Volg Suna op Instagram vir wonderlike raad en truuks: