Jou reuksintuig is jou sterkste sintuig. Reuk kan meteens jou aan ’n spesifieke geleentheid, plek of persoon laat dink. Jy ruik dalk nie altyd jou eie parfuum aan jou lyf nie, maar sodra jy iemand ’n drukkie gee ruik ander dit en vorm dit onmiddellik ’n geur-herinnering. Maar waar moet jy parfuum aan jou lyf spuit sodat dit lank hou?

Tydens ’n onlangse parfuum-werkswinkel, wat deur die luukse-ontwerphuis Montblanc aangebied is, het die Johannesburgse parfuum-kenner, Liz Ferrett vertel dat parfuum aan die warmste gedeeltes van jou lyf gespuit moet word. Die hitte veroorsaak dat die parfuum se geure ontwikkel en na vore kom sodat dit duideliker geruik word. Geure styg na bo, dus is dit ook slim om parfuum op laer gedeeltes van jou lyf aan te spuit, sê sy.

Hiér moet jy jou parfuum spuit:

FOTO: Getty

1. Agter jou knieë

Hitte styg, só ook parfuum. As jy geur laer op jou lyf aanspuit, soos in die waai van jou knieë, styg dit deur die dag vir ’n aanloklike aura.

2. Arms (binne jou elmboë)

Die area is warm, veral wanneer jou arms buig en gevou is. Om te help dat jou geur nog langer op jou vel bly, bevog jou arms vooraf met ’n lyfroom. Parfuum ‘klou’ moeiliker aan ’n droë vel.

3. Polse

Dis ’n gewilde plek om parfuum aan te spuit, maar onthou om nie jou polse na die tyd teen mekaar te vryf nie. Dit breek die parfuum se geure af voordat dit tyd gehad het om behoorlik op jou vel te ontwikkel.

4. Agter jou nek

Die area agter jou nek is ook warm, veral as jy langer hare het. Spuit liggies ’n bietjie parfuum hier aan.

5. Agter jou ore

Hiér is jou are baie ná aan die veloppervlak en dus warmer. 

Vermy dié areas:

1. Jou nek en bors

Die alkohol in parfuum maak dat dié dele van jou vel baie meer sensitief vir lig is. Jou vel word dus vinniger deur die son se skadelike UV-strale gebrand. Dit kan lei tot oneweredige bruin vlekke en selfs hiperpigmentasie later in jou lewe.

2. Hare

Weens die alkohol in parfuum kan dit maklik jou hare uitdroog.

3. In die lug voor jou

Liz meen dis bloot ’n vermorsing van waardevolle parfuum.

Probeer dié parfuums:

1. Montblanc Lady Emblem L'Eau Eau de Parfum (R715 vir 30ml)

2. Versace Pour Femme Dylan Blue Eau de Parfum Natural Spray (R980 vir 30ml)

3. Narciso Eau de Parfum Rouge Narciso Rodriguez (R2118 vir 50ml)