Reuk is jou sterkste sintuig. Dit kan jou oombliklik terugvoer na die verlede en jou aan iets of iemand laat dink. Jy ruik dalk nie altyd jou eie parfuum aan jou lyf nie, maar gee jy byvoorbeeld vir iemand ’n drukkie, ruik daardie persoon dit en vorm dit onmiddellik ’n geur-herinnering.

Hoe maak jy seker dat jy altyd lekker ruik? Waar spuit jy parfuum aan sodat dit langer sal hou?

Tydens ’n onlangse parfuum-werksessie wat deur die luukse-ontwerphuis Montblanc aangebied is, het die Johannesburgse parfuumkenner Liz Ferrett verduidelik parfuum moet aan die warmste dele van jou lyf gespuit word. Die hitte laat die parfuum se geure ontwikkel en intenser na vore kom sodat dit ook langer op jou vel sal talm. Geure styg na bo, dus is dit ook slim om parfuum laer af op jou lyf aan te spuit, het sy gesê.

Hiér moet jy parfuum aanspuit

FOTO: Getty

1. Agter jou knieë

Hitte styg, só ook geur. As jy parfuum laer op jou lyf aanspuit, soos in die waai van jou knieë, styg dit deur die dag en vorm ’n aanloklike geur.

2. Arms (binne jou elmboë)

Dié deel is warm, veral soos jy jou arms buig en vou. Bevog jou arms met ’n lyfroom voordat jy parfuum aanwend, aangesien parfuum moeiliker aan ’n droë vel klou.

3. Polse

Dis ’n gewilde plek om parfuum aan te spuit, maar onthou om nie jou polse teen mekaar te vryf nadat jy gespuit het nie. Dit breek die parfuumnote af voordat dit tyd gehad het om behoorlik te ontwikkel.

4. Agter jou nek

Dié deel van jou lyf is ook warm, veral as jy langer hare het. Spuit liggies ’n bietjie parfuum hier aan.

5. Agter jou ore

Hiér is jou are baie na aan jou veloppervlak en dus warmer. 

Vermy dié areas:

1. Jou nek en bors

Dié dele van jou lyf is dikwels blootgestel aan die son se skadelike UV-strale, wat dit sensitief maak vir die alkohol in parfuum. Jou vel kan dan vinniger brand, wat tot oneweredige bruin vlekke en selfs hiperpigmentasie later in jou lewe kan lei.

2. Hare

Die alkohol in parfuum kan jou hare uitdroog.

3. In die lug voor jou

Liz meen dis bloot ’n vermorsing van waardevolle parfuum.

Probeer dié parfuums:

1. Montblanc Lady Emblem L'Eau Eau de Parfum (R715 vir 30 ml)

2. Versace Pour Femme Dylan Blue Eau de Parfum Natural Spray (R980 vir 30 ml)

3. Narciso Eau de Parfum Rouge Narciso Rodriguez (R1 425 vir 50 ml)

SARIE Voorbladgesig 2018 word met trots geborg deur Montblanc Lady Emblem, INOAR, Isa Carstens Academy, Kalahari en kykNET.