Al ooit oor ’n nuwe parfuum gelees en gewonder wat beteken basis- en hartnote, of EDP en EDT? Ons beantwoord dié en ander belangrike vrae sodat jy presies weet waarna om te soek wanneer jy weer in ’n winkel vol parfuumkeuses staan. Omdat ’n geur anders ruik aan elke vrou, is dit immers ’n unieke bykomstigheid om jouself (of ander) mee te bederf. Lees meer in jou parfuumgids...

Wat beteken top-, hart- en basisnote?

Die topnote

Dit bevat die mees vlugtige bestanddele wat die gouste verdamp. Dis gewoonlik sitrusnote (soos nartjie, suurlemoen en pomelo), ligte blomnote (soos freesia en dallelie) en waternote. Dis ook die note wat jy eerste ruik wanneer jy parfuum aanspuit.

Die hart van ’n parfuum

Dit bevat bestanddele wat vir ’n uur of twee langer op jou vel hou. Dis gewoonlik die ryker blomnote (soos roos, soetemaling en ilang-ilang), speserynote (soos naeltjie, kaneel, peper en neutmuskaat) en sommige ligter houtnote.

Die basisnote

Dit vorm die grondslag en bly op jou vel vir tussen vier tot ses uur. Algemene basisnote sluit in houtnote (soos patsjoelie, sandelhout en sederhout), soet note (soos vanielje en tonkaboontjie) en mos-note. Jy ruik dié note eers heelwat later nadat jy die parfuum aangespuit het.

Die luukse ontwerphuis Montblanc se Lady Emblem-parfuumreeks het drie variasies, elk met verskillende top-, hart- en basisnote om 'n ander gevoel te skep. 

1. Lady Emblem

2. Lady Emblem L'Eau

3. Lady Emblem Elixir

Wat beteken EDP, EDT en EDC?

Parfuum bevat verskillende bestanddele, waaronder parfuumolie wat sorg vir die heerlike reuk. Die konsentrasie olie het ’n invloed op hoe sterk jou parfuum ruik en hoe lank dit op jou vel hou.

EDP - staan vir Eau de Parfum en bevat ’n hoër konsentrasie olie as EDT en EDC. Dit is dus sterker en gaan langer hou. EDP is ook gewoonlik duurder as EDT en EDC.

EDT - As jy van ’n ligter parfuum hou, is ’n EDT, oftewel Eau de Toilette, met ’n laer konsentrasie olie ideaal. Dit hou net nie so lank soos EDP op die vel nie.

EDC - (Eau de Cologne) bevat die laagste konsentrasie olie en is ’n baie ligte geur. Omdat dit nie so lank op die vel hou nie is dit heerlik om in die somer te gebruik, want jy kan dit gereeld deur die dag aanspuit.

Probeer dié produkte:

1. Lady Emblem Elixir (R1010 vir 50ml EDP)

2. Issey Miyake L'Eau D'Issey Pure Nectar de Parfum (R1430 vir 50ml EDP)

3. Juicy Couture Viva La Juicy Soirée (R1280 vir 100ml EDP)

4. Roberto Cavalli Florence (R1155 vir 50ml EDP)

5. Lanvin Modern Princess (R995 vir 90ml EDP)

SARIE Voorbladgesig 2018 word met trots geborg deur Montblanc Lady EmblemINOARIsa Carstens AcademyKalahari en kykNET.

SARIE Voorbladgesig 2018