Kersfees is die perfekte tyd om jouself, ’n geliefde of vriendin te bederf. Parfuum is die ideale geskenk en ’n groot bederf wat enigiemand spesiaal sal laat voel.

In die winkels word ons oorweldig met al die verskillende geure. Hier is ’n lys van onweerstaanbare geure vir mans en vrouens. Van dié geure is luuks en ander weer sakpas.

Vir haar:

Viktor & Rolf Flowerbomb Midnight (R2 380 vir 100 ml EDP)

Die sterbestanddeel in dié parfuum is ’n tipe jasmyn wat slegs in die aand blom. Saam met ’n pralienakkoord, swartbessie en patsjoelie is dit ’n swaar geur vol misterie en sensualiteit.

Paco Rabanne Olympéa Legend (R1 720 vir80 ml EDP)

Dié Oosterse blomgeur is aanloklik met pruim, perske en sout as topnote, ’n blomhart en vanielje, tonkaboon en amber in die basis.

Bio Sculpture Carmen (R960 vir 100 ml EDP)

Die trots SA naelreeks Bio Sculpture Gel spog nou ook met hul eie parfuum. Dis ’n sagte, vroulike geur met vrugte- en blomnote soos pomelo, appel, katjiepiering en viooltjie. By uitsoeksalonne of skakel 082 827 1088.

Avon Far Away Gold (R239 vir 50 ml EDP)

Avon se topverkoper parfuumreeks Far Away spog met ’n nuwe, gesofistikeerde bottel. Far Away Gold voer jou weg na ver lande danksy die luukse vermenging van Indiese jasmyn en Malgassiese vanielje. Aanlyn by avon.co.za of skakel 0860 102 345.

Vir hom:

Jimmy Choo Urban Hero (R1 395 vir100 ml EDP)

Vir die moderne, kreatiewe man met die stad as sy speelveld. Die geur is houtagtig, met suurlemoenkaviaar, swartpeper en leer.

Azzaro Chrome Aqua (R915 vir 50 ml EDT)

Die mees onlangse weergawe van dié ikoniese sitrusgeur vir mans weerspieël die vars gevoel van die Mediterreense See. Dit bevat pomelo, kruisement, kuskusgras en basiliekruid. Perfek vir somer!

Hugo Boss Hugo Reversed (R895 vir 75 ml EDT)

’n Antidoot vir voorspelbaarheid. Hierdie varser weergawe van die klassieke Hugo-geur bevat net vier note: bergamot, pomelo, kuskusgras en roosmaryn.

K by Dolce & Gabbana (R1 615 vir 100 ml EDT)

’n Ode aan ’n nuwe era van manlikheid wat tradisie respekteer en moderniteit omarm. Bloedlemoen, Siciliaanse suurlemoen, malva en ’n unieke noot, rooi soetrissie, betower en verlei in dié nuwe mansgeur.