Ja, vroue kan ook die skeermes nader trek en hul gesig skeer. Dis glo die antwoord vir ’n sysagte vel, grimering wat makliker aanwend en ’n foutlose voorkoms. Die SARIE-skoonheidspan het gaan ondersoek instel ...

Ongewenste haartjies op jou gesig is ’n alewige stryd. Maand ná maand word afsprake gereël. Waks, laser en threading is gewild. Maar het jy al ’n enkellem-skeermes oorweeg? Dis die perfekte oplossing om in ’n kits van donserige hare oor jou hele gesig ontslae te raak. 

Die Suid-Afrikaanse YouTuber Jessica van Heerden skeer gereeld haar gesig. Dis volgens haar basies dermaplaning by die huis. 

Wat is dermaplaning?

Dit is ’n vorm van afskilfering waar ’n spesiale chirurgiese lemmetjie gebruik word om dooie velselletjies en fyn haartjies op jou veloppervlak te verwyder.

Die behandeling is vanjaar ’n gonswoord in die skoonheidswêreld danksy ’n magdom Instagram-plasings wat wys hoe mense dié unieke behandeling ondergaan en ná die tyd spog met ’n superstralende vel.

Die terapeut beweeg die lemmetjie in kort, vinnige hale oor jou vel terwyl sy jou vel effens styf trek. So word die oppervlak mooi egalig afgeskilfer en as ’n bonus word die fyn haartjies op jou gesig ook verwyder, sê Yolandé Swanepoel, hoof van programontwikkeling by die Isa Carstens Akademie.

Vroue wat hul gesig skeer is nie so ’n vreemde verskynsel soos wat baie glo nie. Selfs bekende aktrises soos Marilyn Monroe en Elizabeth Taylor was glo aanhangers daarvan. “Ek skeer my gesig sodat my vel gladder is en my grimering mooier en egaliger vertoon,”  sê Jessica. 

“Skeer help nie net om van die haartjies ontslae te raak nie, maar skilfer ook my vel af en raak van dooie velselle ontslae. As jou grimering patchy voorkom, is hierdie metode perfek vir jou.” 

Op ’n droë vel, skuur Jessica met ’n enkellem-skeermes liggies en met kort hale oor dié deel op haar gesig waar sy die hare wil verwyder. 

Die enkellem-skeermes reinig sy met suiwer alkohol voor sy dit gebruik. Sy hou die alkohol in ’n spuitbotteltjie sodat sy agterna haar hele gesig liggies daarmee kan spuit. “Ek het al my gesig geskeer en nie agterna alkohol aangespuit nie, en kort daarna met ’n veluitslag gesukkel,” sê sy. 

Kyk net hier:

Maar gaan die haartjies nie growwer uitgroei nie?

Kundiges meen dis ’n mite dat die hare op jou vel growwer en dikker teruggroei wanneer jy dit skeer. Soms voel die geskeerde deel wel growwer wanneer die haartjies begin teruggroei omdat die skeermeslemmetjie die hare stomp teenaan die veloppervlak afsny.

Hoekom dit dan doen?

Voordeel

Omdat die skeerproses fyn haartjies en dooie selle op jou veloppervlak verwyder, sorg dit vir ’n gladde, egalige veltekstuur. Grimering wend dan makliker en gladder aan. Die gereelde afskilfering kan ook die voorkoms van littekens en fyn lyntjies verbeter.

Nadeel

Volgens Sonette Donker, velsorgkenner van die velsorgkliniek Skin ID in Johannesburg, is dit nie noodwendig sleg om jou gesig te skeer nie, maar op die lange duur kan dit veral vel wat sensitief is, irriteer en rooiheid of ’n veluitslag veroorsaak. As jy hoofsaaklik jou veltekstuur wil verbeter, stel sy voor jy gebruik eerder twee tot drie keer ’n week ’n chemiese afskilferaar, wat sure soos glikoliese en melksuur bevat. Dit sal net so goed werk om jou veltekstuur glad en egalig te maak en die voorkoms van littekens te verbeter sonder dat dit jou vel irriteer.

Jessica hou van:

Basics Razor Eyebrow Long Blades (R30) By Dis-Chem