MY MOOIMAAK-FILOSOFIE

Dis belangrik vir ons as vroue om te weet dat ons tyd aan onsself mág spandeer. Jy moet in jouself en in jou selfbeeld belê. Só kan jou mooimaak-roetine ’n omgee-roetine word. As jou eie tenk vol is, kan jy makliker vir ander gee.

SÓ SPAAR EK TYD

My daaglikse grimeervoorkoms neem my minder as 10 minute. Ek begin deur gesigolie, vogroom en sonskerm in ’n opwaartse rigting aan my gesig en nek te smeer. Ek dra nie onderlaag nie en wend net verbloemer onder my oë aan (ek het vreeslike donker kringe) en rondom my neus waar my vel soms effens rooi is. Ek het reeds wilde wenkbroue, maar hou daarvan om dit nóg voller en dikker te maak. Ek kam dit netjies en gebruik ’n fyn potlood om dit in te vul. Ek hou ook daarvan om my oë met lang, gekrulde wimpers te beklemtoon. Hiervoor gebruik ek ’n wimperkruller en maskara.

Katryn Kruger vir SARIE se Januarie 2020-uitgawe. FOTO Katinka Bester van Hero Creative Management

MY MOET-HÊ-PRODUK

Ek is mal oor Elizabeth Arden se Eight Hour Cream Skin Protectant. Dit werk vir amper alles! Ek gebruik dit om my lippe te bevog, tik dit op my wangbene as verligter en selfs op my ooglede vir ’n bietjie glans.

MY BESTE SKOONHEIDSWENK

’n Goeie vogroom werk so goed soos onderlaag. Wend snags ’n lekker nagroom aan, ons vel rus in die nag nes ons.

KATRYN SE 3 TOP-PRODUKTE

1. Gebruik daagliks Dr. Hauschka Rose Day Cream (R629) om ’n gesonde olie- en vogbalans in jou vel te behou. By Woolworths, Wellness Warehouse, takealot.com en faithful-to-nature.co.za

2. Dié ikoniese appelkooskleurige balsem kalmeer en bevog jou vel – Elizabeth Arden Eight Hour Cream Skin Protectant (R315).

3. Die Bobbi Brown Instant Full Cover Concealer (R570) verbloem donker kringe en knoppies in ’n kits.

By #SARIEmooivirjou (18 September in Kaapstad) gaan jy leer oor velsorg by African Extracts én by Mari Conradie en GOSH hoe om jou eie grimering te doen. Stuur ’n e-pos na anene.deklerk@sarie.com vir meer inligting.

In 2020 is SARIE se wekroep #JyIsGenoeg – genoeg om in jouself en jou selfbeeld te belê! In Vrouemaand op 22 Augustus deel ons dié boodskap met SARIE se #JyIsGenoeg-dag propvol inspirasie. Gaan na Quicket en soek ‘Jy is genoeg’ vir meer inligting.