MY FILOSOFIE:

Ek hou daarvan om te kook en het ’n swak plek vir pizza. En natuurlik geniet ek ’n glasie rooiwyn ná ’n lang dag se werk. Tog is groente en vrugte saam met elke maaltyd vir my belangrik en ek peusel graag aan neute en dadels. Dis waar balans inkom in my lewe: Ek laat sekere sondes toe, maar kan dit uitbalanseer met gesonder keuses.

SAAM-OEFEN:

Met Bikram-joga (wat in ’n verhitte vertrek gedoen word) raak ek ontslae van al die aaklige gifstowwe in my lyf. Dit leer my om dieper asem te haal en gee my energie. Boonop hou ek daarvan om oefeninge in ’n klas te doen. Om saam met ander mense te oefen motiveer my geweldig en laat my voel ek is nie alleen op my journey na gesondheid nie.

MOOISTE OË:

In ons familie is ons geneig om maklik donker kringe onder ons oë te ontwikkel wanneer ons nie genoeg slaap inkry nie. Ek gebruik al vandat ek 25 is ’n oogroom as deel van my daaglikse velsorgroetine. Dit verhelder donker kringe en hou die vel om my oë soepel en sag.

2 TOP-GRIMEERPRODUKTE:

Omdat ek elke dag op stel grimering dra, probeer ek op my dae af so min as moontlik op my vel sit. Ek hou van ’n lekker lipsalf. My gunsteling is Lipsano se Lip Care omdat dit strelende byewas bevat wat my lippe vir lank sag en bevog hou. En as ek die dag waaghalsig voel, dra ek ook maskara. Met maskara en ’n mooi lip kan jy nooit verkeerd gaan nie.

NATUURLIKE HARE:

Tans laat ek my natuurlike krulle uitgroei en gebruik daarom ’n bevogtigende sjampoe en opknapper om erge droogheid te keer. Soms spoel ek nie die opknapper uit nie. Dit help om my hare ’n bietjie sagter te maak. Ek sal ook klapperolie aan my hare sit om die groeiproses aan te help. Ek dink een van die groot probleme in ons samelewing is dat ons as vroue nie altyd ons haartipe respekteer nie en dit alewig probeer verander. Aanvaar jou natuurlike hare en gee dit liefde.

MY GEUR:

Ek is mal oor parfuum en probeer altyd iets nuuts om my versameling uit te brei. Op die oomblik gebruik ek Jimmy Choo L’Eau. Dis lig met ’n sweempie soetigheid. My gunsteling-go-to-parfuum is DKNY Women. Dis vars en vol sitrus en laat my dink aan somer en op die strand lê.

BESTE MOOI-WEES-RAAD:

Aanvaar jouself soos jy is. Eet gesond, en drink báie water.