Kyk jy na die sosiale media is die nuutste moet-hê-bestanddeel vir ’n mooi vel kollageenpoeier. Talle bekendes en skoonheid-‘influencers’ drink nou dié aanvulling in hul koffie, tee, smoothies en selfs G&T. Maar maak dit werklik ’n verskil?

Kollageen is ’n jellieagtige proteïen wat natuurlik in jou bene, spiere en tendons, asook jou vel, hare en naels voorkom. In jou vel is dit deel van die bindweefsel wat dit plomp en jeugdig laat lyk. Dis noodsaaklik vir vel-elastisiteit en vir die vel om sy vorm en fermheid te behou.

Soos ons ouer word neem die kollageen wat jou lyf vervaardig af. Dit word aangehelp deur omgewingsfaktore soos die son, jou dieet en blootstelling aan gifstowwe soos besoedeling en sigarette. Om dié rede word kollageenaanvullings toenemend gewild om verlore kollageen aan te vul en die voorkoms van lyntjies en plooie te verbeter.

Volgens Anneen Middel, geregistreerde dieetkundige van Pretoria, glo daar is tans nog nie genoeg wetenskaplike bewyse dat kollageenaanvullings ’n direkte uitwerking op jou vel se voorkoms het nie.

Sy verduidelik: Kollageen wat mondeliks ingeneem word, word afgebreek tot aminosure (die boustene van proteïne) en deur jou bloedstroom opgeneem. Sodra dit in jou bloedstroom is gebruik jou liggaam aminosure vir energie of om ’n spesifieke besering in jou liggaam te herstel. Daar is dus geen manier om te waarborg dat die proteïene op die ou end jou vel gaan bereik nie.

Onthou!

Vleis, kaas, eiers en bone is waardevolle bronne van proteïene in jou dieet.

Dr. Ian Webster, ’n spesialis-dermatoloog op Somerset-Wes en medestigter van die aanlyn velsorgwinkel Dermastore, glo kollageenaanvullings kan werk, maar waarsku dat nie alle handelsmerke gelyk is nie. “Die belangrikste is om vas te stel of die kollageen wat jy drink inderdaad deur jou liggaam opgeneem word. Na aanleiding van die studies wat ek al ondersoek het wil dit lyk asof gehidroliseerde kollageen in vloeibare vorm wat saam met ander bestanddele (soos hialuronsuur, magnesium en vitamiene B’s en C) geformuleer is, makliker opgeneem word.”

Gelukkig is die proteïene wat kollageen lewer voordelig vir die algehele gesondheid van jou liggaam. Buiten dat dit jou energie gee en skade herstel, dra dit nutriënte rond. Dit speel ook ’n belangrike rol in die bou en ondersteuning van gewrigte en kan dalk selfs help om osteo-artritus se ongemak te verlig. En op die ou end beteken ’n gesonde liggaam ook ’n gesonde vel.

Probeer dit:

Dis ’n goeie plan om ’n kollageenaanvulling te drink wanneer jy vir ’n reeks microneedling-behandelings gaan. Omdat die behandeling klein “beserings” in jou vel maak, is die kans groter dat jou liggaam die ekstra aminosure sal inspan om jou vel te herstel.