Die gewilde sangeres en TV-aanbieder Nádine is SARIE se Mei-voorbladster. Met haar rokerige ooggrimering met goue aksente en gloeiende blosser op haar wange straal sy behoorlik.

FOTO Marijke Willems

Nádine se treffende haar- en grimeervoorkoms is deur die Johannesburgse haarstilis en grimeerkunstenaar, Alex Botha, geskep. Die SARIE-skoonheidspan wou by Alex weet hoe sy die grimering gedoen het. Sy verklap jy gebruik ’n goue of brons oogskadu, swart oogskadu, swart oogomlyner, swart maskara, blosser en goue verligter vir die voorkoms.

FOTO Marijke Willems
FOTO Marijke Willems

Só skep jy dit:

1. Berei eers jou oë met verbloemer voor. Seël dit met so bietjie poeier, sodat die oogskadu nie in die voue van jou oë gaan lê nie.

2. Wend eerstens jou goue of brons oogskadu met ’n glansende afwerking aan. Dis belangrik om dit mooi egalig in te skakeer tot by die vou van jou ooglid.

3. Skakeer daarna swart oogskadu mooi in, ook tot by die vou van jou ooglid.

4. Gebruik ’n swart oogomlyner om jou waterlyn én boonste wimperlyn te omlyn.

5. Wend so bietjie swart oogomlyner op ’n klein oogskaduborsel aan. Skakeer dit mooi teenaan jou waterlyn en boonste wimperlyn in totdat dit aan die buitehoek van jou oog verbind is.

6. Rond met gitswart maskara af.

WENK

Doen eerstens jou oogskadu en dan jou onderlaag. Swart oogskadu kan maklik mors!

Wange

1. Maak seker jy kies die regte skakering blosser om jou velkleur te komplementeer. Gebruik pienk op ’n ligter vel en ’n perske skakering op ’n donkerder vel.

2. Wend die blosser direk op jou wange, in ’n opwaartse rigting na jou slape toe, aan.

3. Rond met ’n goue verligter af om jou wangbene mooi te definieer.

Emari Gieselbach op SARIE se Oktober 2018-voorblad:

Emari verskyn op 4 verskillende SARIE-voorblaaie

Ons was ewe gaande oor Emari Gieselbach se voorbladvoorkoms. Die 35-jarige kunsonderwyseres van Centurion het in Oktober 2018 die 10de SARIE-leser geword wat haar eie voorblad gekry het. Haar rokerige oë, blos en sagte pienk lippe het haar gelaat én uitrusting gekomplementeer.

Die SARIE-skoonheidspan het met die haarstilis en grimeerkunstenaar Tyron Sweeney, wat haar hare en grimering vir die fotosessie gedoen het, gesels. Hy het haar as ’n pragtige, dinamiese ma én vrou ervaar. “Sy het beslis dié voorblad verdien,” sê hy 

Emari Gieselbach

Só is Emari voorbladmooi gemaak:

1. Haar gelaat is met onderlaag voorberei om vars en douerig te vertoon.

2. Haar wange is met ’n perske blos verhelder, wat haar wange gloeiend laat lyk het.

3. Volgens Tyron is Emari se oë die perfekte afstand van mekaar. Daarom wou hy nie te veel donker oogskadu aan die binnekant van haar oë aanwend nie. ’n Maroen skakering is hoofsaaklik aan die buitenste hoeke van haar oë gebruik, en ’n pers skakering meer aan die binnekant.

4. Haar oë is duidelik omlyn en ekstra maskara is op haar wimpers aangewend om haar groen oë nog treffender te laat lyk.

6. Haar wenkbroue is met ’n sagte bruin potlood ingekleur om haar voorkoms af te rond.

7. Op haar lippe is ’n sagte rooskleurige lipglans gebruik.

Tana Ferreira op SARIE se November 2012-voorblad:

Ooggrimering met ’n neutrale ondertoon is perfek vir blou oë. Aangesien blou oë ’n koel ondertoon het, is enige warmer oogskadu’s ’n goeie opsie.

1. Kies ’n natuurlike oogskadu en wend dit oor jou hele ooglid aan.

2. Gebruik vloeibare oogomlyner om ’n dun lyntjie net bokant jou wimperlyn te trek.

3. Gebruik ’n wimperkruller om jou wimpers te krul en wend minstens twee lae maskara aan vir lang, welige wimpers.

4. Vul jou wenkbroue met ligte strepies in om ’n natuurlike, voller voorkoms te skep.

Wange

1. Kies ’n blosser in ’n sagte, natuurlike skakering en wend dit op jou wangbene aan.

Skryf nou in!

Die soektog vir SARIE se Voorbladgesig 2019 het amptelik begin! Skryf in, benoem iemand en stem. 

Klik hier om deel te wees van die Voorbladgesig-reis.

SARIE Voorbladgesig in trotse samewerking met INOARKalahari en Isa Carstens Akademie