Leandie du Randt, aktrise en eienaar van Skoonma Clothing en To Be Gift Boxes, straal en floreer op 30. Nie net het sy 'n kop vir besigheid nie, met haar stompgesnyde bob, goed versorgde vel en modieuse styl lyk sy mooier as ooit. G'n wonder vroue en meisies hang tydens haar motiveringspraatjies aan haar lippe nie.

Leandie weet waarvan sy praat en is self 'n bewys daarvan. Sy inspireer ander om ook te waag as dit by hare en grimering kom. Die SARIE-skoonheidspan het met haar gesels.

Processed with VSCO with a4 preset
FOTO Instagram / Leandie du Randt

My nuwe, korter haarstyl

Leandie het so paar maande terug haar hare ekstra-kort in 'n bob geknip. Sy vertel dat daar twee redes vir dié verandering was. "Ek is weer in Getroud met rugby as Mieke te sien en dit was vir my baie belangrik dat Mieke anders lyk as Ivanka, wat ek in Binnelanders gespeel het. Ek het onlangs deur 'n egskeiding gegaan en dit was vir my nodig om al die trauma en hartseer af te sny. Hulle sê mos mens se emosionele trauma lê in jou hare." 

Ek voel soos 'n nuwe mens

Leandie is nie bang vir verandering nie en voel goed oor haar korter styl. "Ek voel amazing. Ek kan dit nie beskryf nie. Dis die eerste keer in agt jaar dat ek my hare so kort gesny het. Gewoonlik is ek ná 'n week spyt. Maar nou voel ek regtig soos 'n nuwe mens. Ek voel weer 22, so dit doen my goed." 

Só dra ek my hare

Leandie het twee gunstelingmaniere om haar hare te stileer. "Ek blaas dit net in 'n middelpaadjie droog. Ek blaas my hare onderstebo sodat dit meer body het." Sy wend so bietjie haarwaks teenaan haar haarlyn aan om haar paadjie mooi plat en in plek te hou. Die res van haar hare pof sy effens op met haarpoeier. "Of ek vat my haartang en maak net een krul. Dit skep net so bietjie van 'n kink. Ek kam my hare dan oor na die een kant toe sodat my paadjie ver oor is na die ander kant toe."  

FOTO Instagram / Leandie du Randt
FOTO Mandy Stander

My skoonheidsfilosofie

"Om wat reeds daar is net te enhance. Ek is glad nie 'n fan van om iets te probeer wees wat ek nie is nie. Skoonheid begin vir my met jou gedissiplineerde roetines, soos om elke aand jou gesig te was, maak nie saak hoe moeg jy is nie." Leandie glo daarin om gereeld haar vel af te skilfer en vir velbehandelings te gaan. "Ek doen regtig baie moeite met my gesig. Ek is nou 31, so dis belangrik om ekstra voorsorg te tref. 'n Baie belangrike skoonheidswenk wat ek te laat in my lewe begin toepas het, is om sonskerm elke liewe dag te dra. As jy by die huis uitstap, moet jy sonskerm dra."

Dís in my grimeersakkie ...

Leandie verkies 'n meer natuurlike grimeervoorkoms wat haar gelaatstrekke komplementeer en nie oorweldig nie. Onderlaag, verbloemer, verbronser, maskara en lipstiffie sal jy in haar grimeersakkie vind.

Ek kan nie sonder ...

"My gunsteling-grimeerproduk is lipstiffie. Ek het lipstiffiekleure wat jy in jou wildste drome nie aan kon dink nie. Ek is mal oor Revlon se Ultra HD Matte Mousse (R170)."

Leandie en Revlon ...

Leandie is onlangs gevra om deel van Revlon se #ICanSoIDid-veldtog te wees vir die bekendstelling van die nuwe PhotoReady Candid-grimeerrreeks. Sy het haar candid oomblikke gedeel. "Dit gaan baie oor die hardships wat ek al ervaar het en hoe dit my gehelp het om my drome te bereik. Dit is so spesiaal, ek love Revlon." Leandie stap al 'n lang pad met Revlon. As kind het haar ma Revlon-produkte gebruik om Leandie vir haar balletkunswedstryde te grimeer. 

Die nuwe grimeerreeks, wat reeds op die winkelrakke beskikbaar is, is baie beskostigbaar, vertel Leandie. "Hulle het amazing produkte nou vir jong studente en meisies." Sy is die ideale persoon om met dié veldtog geassosieer te word. In haar boek Gemaklik in jou eie lyf bied sy juis raad vir jonger meisies om selfvertroue te ontwikkel en die beste weergawe van hulself te wees. 

As jy van Leandie se gunstelingprodukte wil probeer, koop die eksklusiewe To Be SARIE-verjaardagboks. Ter waarde van R1 290 vir slegs R660. Aflewering ingesluit. Bestel aanlyn by www.tobegiftboxes.com

FOTO Instagram / To Be Gift Boxes

In jou boks: Revlon Ultra HD Matte Lip Mousse, SARIE Julie 2019-uitgawe met SARIE-serp, To Be Body Lotion, leergrimeersakkie, Nimue Environmental Shield SPF50 en Basilei Gourmet-malvalekkers.