‘Ek is gewoonlik eerste op stel, en van die laastes om te gaan’

Marí Conradie, grimeerkunstenaar en haarstilis

Marí Conradie het al met ’n gebreekte arm aktrise Rolanda Marais se hare op stel geknip, akteur Jarrid Geduld se grimering gedoen terwyl skote buite in die strate van die bendegeteisterde Lavender Hill digby Kaapstad klap en gesorg vir die kostuums én grimering vir ’n vollengte rolprent wat binne twee weke geskiet moes word.

In dié bedryf is daar altyd nuwe uitdagings, vertel Marí, wat die afgelope vyf jaar veral as grimeerkunstenaar haar stempel in die filmbedryf afgedruk het. “Jy leer elke dag iets nuuts, daar is immer nog ’n interessante karakter, nog ’n inspirerende akteur of aktrise saam met wie jy graag wil werk.”

Marí was eintlik voltyds interieur-ontwerper by ’n Kaapse maatskappy toe sy vroeg in 2015 onverwags die aanbod kry om die grimering vir ’n film te doen, en “blindelings ingespring” het.

“Iemand het my gevra om op stel vir haar in te staan. Ek het vroeër ’n jaarkursus in grimering gedoen [Marí was die topstudent] en af en toe bruide gegrimeer, maar verder geen ervaring gehad nie. Die fliek was Double Echo van Deon Meyer, met Amalia Uys in die hoofrol. Ek het eintlik glad nie geweet wat ek doen nie, maar van die eerste oomblik af was ek mal daaroor,” vertel sy.

Dieselfde produksiehuis het haar daarna genader om te werk op die stel van Dis koue kos, skat, “en van daar was dit net die een film ná die ander”.

Nou leef sy maar haar interieur-liefde uit met scatter cushions – haar kêrel, die musikant Loki Rothman, kan lankal nie meer tred hou met almal nie – en boonop het hulle net een rusbank, skerts sy.

Nie dat hulle altyd kans het om saam daarop te sit nie. As Marí aan ’n fliek werk, is sy gewoonlik eerste by die werk en dikwels van die laastes om huis toe te gaan.

“Soggens is ek die eerste mens wat die akteurs sien. Ek is goed daarin om mense en situasies te lees, ek het ’n kalmerende teenwoordigheid en is ’n bietjie van ’n ontlonter. Die laaste ding wat jy op stel nodig het, is nóg ’n ‘persoonlikheid’!”

Sy geniet die hele proses: om die draaiboek te lees, die prentjie van die karakter wat in jou kop vorm aanneem, die skep van die mood board ... En om uiteindelik die karakter op die monitor te sien.

Een van haar grootste uitdagings was die fliek Ellen: Die storie van Ellen Pakkies. “Dit was ’n emosiebelaaide drama. Ons het in haar huis in Lavender Hill geskiet, onder moeilike omstandighede. My grimering is uit my hande gesteel, ons moes selfs een keer vroeg huis toe gaan toe ’n skietery tussen bendes uitgebreek het. Dit was intens. Maar dan kyk jy later die fliek en jy besef dit sou nie so treffend gewees het as dit op enige ander plek verfilm is nie.”

Die aksiefilm Ander mens het weer al haar en haar assistent se vernuf geverg omdat tyd beperk was – “een oomblik moes die akteur ’n mes in sy oog hê, die volgende oomblik nie”.

Met Afrikaanse flieks het jy nooit die luukse van tyd nie, hoogstens ’n halfuur om ’n akteur in ’n karakter te omskep. Én die standaarde bly hoog.

By regisseur Christiaan Olwagen het sy geleer dat jy altyd tot meer in staat is. “Reeds met Johnny is nie dood nie, my eerste fliek saam met hom, het hy my gedruk om nóg beter te doen. Met hom sê ek al ja voor ek weet hoe!”

Marí help ook soms met kostuums, en sy stileer TV-aanbieder Minki van der Westhuizen vir haar geselsprogram, Minki, op Via.

Sy was baie gespanne toe sy in 2016 as Minki se stilis vir die werklikheidsreeks Boer soek ’n vrou aangestel is, vertel sy. “Ek het gedink: Sê nou maar ons kom nie oor die weg nie, en ons sit duisende kilometers saam in ’n bakkie op die pad? Of dalk hou sy nie van die voorkoms wat ek in gedagte het nie? Maar ons het dadelik gekliek en oor die styl saamgestem. Ons is net onsself as ons saam is en baie eerlik met mekaar.”

Vandat Marí nie meer die land platry nie, het sy weer meer tyd vir haar bruide. Met mariconradie.com en @mooistemooi_ op Instagram het sy ’n sterk handelsmerk gebou. Sy glo in natuurlike skoonheid en “kontoer nie ’n bruid se neus of sit ekstra wangbene in nie”. Vir haar klop niks die gevoel as ’n bruid nie kan glo hoe mooi sy lyk nie ... en al daardie dankiesê-boodskappe daarna.

In die filmbedryf kry grimeerkunstenaars maar min erkenning, sê Marí. “Ons is op stel omdat dit ons passie is, jy doen dit nie vir ’n klop op die skouer nie. Maar ek is bly dat die Silwerskerm-toekennings nou ook grimering en haarstilering insluit.”

En soms is dit die klein bonusse wat al die werk die moeite werd maak. Soos om op stel ’n aktrise soos Anna-Mart van der Merwe te grimeer. “Jy bewonder hierdie aktrise jou lewe lank, en jy het al hierdie verwagtinge en dan oortref sy dit heeltemal.”