Marike Nel, SARIE Voorbladgesig 2013 en grimeerkunstenaar, oor rokerige oë

Oë wat aandag trek, is altyd in die mode.

“As grimeerkunstenaar is die gunsteling-deel van my werk om vir ’n vrou ’n rokerige oogvoorkoms te gee omdat dit so treffend is. Dis die eerste ding wat ander raaksien wanneer hulle na jou kyk,” sê Marike Nel, hoof van opleiding vir die grimeerhuis MUD.

“Oë is die vensters van die siel en deur jou oë te beklemtoon wys jy dat jy dapper genoeg is om meer van jouself te verklap.”

Vroue dink dikwels rokerige oë kan net swart of grys wees, maar jy kan enige kleur gebruik en die intensiteit van subtiel tot smeulend verander soos dit jou bui en die geleentheid pas.

Skakerings van bruin, maroen, pruim en vlootblou pas by die meeste oogkleure, sê Marike. En dit hoef nie ingewikkeld te wees nie.

Die belangrikste is om jou oogskadu goed in te skakeer met groot sirkelbewegings met jou grimeerborsel. Wend ’n medium skakering oor jou hele ooglid aan en dan ’n donkerder kleur in die vou en liggies teenaan jou onderste wimperlyn. Volg dit op met ’n gesmeerde (smudged) oogomlyner in bruin of swart en dan maskara.

“Hou die fokus op jou oë en dra ’n sagpienk of naakkleurige (nude) lipstiffie wat by jou velkleur pas.”

MARIKE SÊ:

Die pigmente van MUD se oogskaduskakerings is baie helder, wat dit maklik maak om rokerige oë te skep. My gunsteling-maskara is Almay se One Coat Get Up & Grow Mascara. Dit laat wimpers langer en voller lyk en voed dit ook.

WENK:

ISA CARSTENS AKADEMIE

Microneedling – waar ’n toestel met fyn naaldjies oor jou vel beweeg word – werk uitstekend om enigiets van donker kringe en lyntjies tot pofferigheid rondom jou delikate oë te behandel.

FOTO: Marijke Willems