Die stadige tempo waarteen ons naels en hare groei, kan soms frustrerend raak. Kry jy nie die regte voedselsoorte in nie, kan dié groeiproses nog meer vertraag word.

Jou dieet speel ’n belangrike rol om jou naels en hare gesond te hou. As jy gesond eet en sodoende die regte voeding inkry, sal jou naels en hare die vrugte daarvan pluk.

Aangesien ons naels en hare grotendeels uit keratien bestaan, sal dieselfde aanvullings vir beide voordelig kan wees.

’n Tekort aan byvoorbeeld yster, biotien, sink en proteïene kan tot haarverlies en naels wat maklik breek of skeur, lei. Daarom is dit noodsaaklik om voedselsoorte te eet wat genoegsame vitamiene en minerale bevat.

Melk is ’n superkos in terme van voedingswaarde. Melk is ryk aan kalsium, vitamien D, biotien en proteïene.

Boonop is daar nóg superkosse wat kan help:

1. Salm

Salm is ryk aan omega 3-vetsure, biotien en vitamien B wat help om jou hare en naels te versterk.

2. Amandels

Amandels is propvol vitamien E sowel as omega 3- en omega 6-vetsure. Dit help om inflammasie teen te werk en gesonde, sterk hare en naels te verseker.

3. Groente

Groente wat oranje van kleur is soos pampoen en wortels bevat vitamien A en C. Dit ondersteun die groeiproses van jou hare en naels.

Bronne: www.goodhousekeeping.com, www.camelmilk.com