Ons almal het ons gunsteling-lyfwasproduk. Party van ons is lief vir ’n koekie seep, terwyl ander meer van die gevoel van ’n lyfwas hou. Maar is die een beter as die ander? Die SARIE-skoonheidspan het gaan uitvind hoe ’n lyfseep en –was opweeg teen mekaar.

Lyfseep

’n Koekie seep is van die bekendste wasmiddels in ons huis. Dié soliede seep bestaan tradisioneel uit vetsure met ’n pH-balans van tussen 9 en 10 en is dus baie alkalies (jou vel se pH is tussen 5 en 6), volgens ’n persverklaring van die velsorghuis Celltone. Hoewel seep uitstekend is om vuilheid te verwyder en boonop super-bekostigbaar is, kan dit jou vel baie droog en gedehidreerd laat omdat dit ook jou vel se natuurlike lipiedlaag verwyder. Gelukkig word deesdae se koekies seep ook met natuurlike olies, soos klapper- of jojoba-olie, geformuleer om dit meer bevogtigend te maak.

Wenk:

Bêre jou koekie seep in ’n seephouer met gaatjies wat ventilasie bied. Dit voorkom dat skadelike bakterieë op die seep versamel.

Lyfwas

Lyfwas is ’n vloeibare wasmiddel. Dit bestaan gewoonlik uit olies en bestanddele wat bevog en vel sag laat voel. ’n Lyfwas werk dikwels die beste as jy dit met ’n waslap of scrubber gebruik. Dis duurder as ’n lyfseep, maar gerieflik omdat net ’n klein hoeveelheid nodig is om vinnig skuim te maak. Kyk uit vir lyfwas wat gliserien bevat omdat dit jou vel help om langer vogtig te bly.

Het jy geweet?

Volgens Dr Susan Stuart, ’n kosmetiese dermatoloog van San Diego, Kalifornieë kan ’n koekie seep beter vir die omgewing wees. Seep word gewoonlik in papier of karton verpak wat makliker afbreekbaar is teenoor lyfwas wat grotendeels plastiese verpakking bevat.

Daar is beslis nie ’n reg of verkeerd nie - dit hang af van jou veltipe en wat jou persoonlike voorkeure is.

Probeer dié produkte:

1. Celltone Tissue Oil Body Wash (R50 vir 200ml)

2. Dove Deeply Nourishing Body Wash (R42)

3. Eucerin Urea Repair Plus Replenishing Body Wash (R180)

4. Dove Beauty Bar in Coconut Milk (R36)

5. The Body Shop Olive Soap (R55)

6. African Extracts Rooibos Classic Care Glycerine Soap (R26)