Een van SA se top mode-ontwerpers, Gert-Johan Coetzee, het pas in Sandton sy eerste eksklusiewe parfuum bekend gestel. 

Só kan jy elke dag in ’n hoogmode-skepping “geklee” wees, sê Gert-Johan.

FOTO Instagram / Gert-Johan Coetzee

Double Platinum is ’n luukse uniseksparfuum wat deur Afrika sowel as treffende Franse note geïnspireer is. Die geur vergestalt sukses en egtheid. Die vroulike note van roos en bessies maak die geur sensueel en sag. Manlike note van gesogte agarhout en wierook skep diepte. 

Volgens die mediaverklaring is dit te danke aan die basisnote van agarhout en hout dat dié geur langer op jou vel draal. 

Het jy geweet?
Agarhout, ook bekend as oud of oodh, is ’n baie duur en skaars parfuumbestanddeel afkomstig van ’n boom inheems aan Suidoos-Asië. Die diep, sensuele geur vorm wanneer ’n spesifieke fungus die boom besmet en dit in reaksie daarop ’n donker, aromatiese gom afskei.

Die swart parfuumbottel met silwer afwerkings herinner aan die platinummyne van Rustenburg en is daarom ’n ode aan Gert-Johan se geboorteplek. 

Dit het meer as ’n jaar geneem om die geur op die winkelrakke te laat pronk. Gert-Johan is na Grasse in Frankryk om die note te kies en dis ook daar vermeng. Grasse is bekend as die wêreld se parfuum-mekka met geure van Dior en Jean Paul Gaultier wat óók daar vermeng word.

Double Platinum (R3 500 vir 50 ml EDP) is by Skins Cosmetics en aanlyn by www.shopgert.com beskikbaar.

Gert-Johan Coetzee se nuwe parfuum.
Gert-Johan Coetzee se nuwe parfuum.
Gert-Johan Coetzee se nuwe parfuum.