Oor bietjie meer as ’n maand maak 43 drawwers hul skoenveters vas om die sowat 1 500 km tussen Johannesburg en Kaapstad af te lê. Onder hulle is Courtney Lawrence, bemarkingsbestuurder van Bacher and Co., ’n maatskappy wat onder meer parfuums en skoonheidsprodukte versprei. Hul doel? Om R2 miljoen in te samel vir die Make A Difference Leadership Foundation (MAD), ’n organisasie wat belowende jong Suid-Afrikaners ondersteun met volledige studiebeurse vir hoërskool- en tersiêre onderrig.

Dié uitdaging staan bekend as Mad2Run en vind jaarliks in April plaas. Oor ’n tydperk van agt dae sal die groep drawwers die 1 520 km in aflos-styl aflê. “Ons hardloop in skofte van agt ure waartydens elke drawwer 20 km moet voltooi. Gewoonlik hardloop so vier atlete op ’n slag saam en sodra die een span klaarmaak, neem ’n volgende oor,” verduidelik Courtney. Sy mik om altesame 200 km in dié tyd te hardloop. Aan die einde neem almal saam deel aan die Twee Oseane-marathon.

FOTO Instagram / Courtney Lawrence

Courtney beskryf haar ervaring tot dusver as verrykend. “Ek het reeds goeie vriende gemaak. Dis wonderlik om met ’n groep mense wat dieselfde doelwitte as jy het saam te werk om daardie doelwitte te bereik.” Sy sien haar deelname ook as ’n belegging in ons land se toekomstige leiers. “Dis ’n lonende ondervinding om te weet elke kilometer wat ek hardloop, het ’n impak op iemand se toekoms.”

Courtney (links) en haar vriendin Kristy, wat saam met haar aan die Mad2Run-uitdaging deelneem.

Maar maklik is dit beslis nie. Haar oefenprogram behels ’n kombinasie van gim en hardloop en verg baie vroeë oggende, laat aande en sosiale opofferings oor naweke. Gelukkig is sy lief vir hardloop. “Dit laat jou toe om jouself te anker en jou gedagtes te laat gaan. Dit leer jou ook uithouvermoë en om te sien waartoe jy werklik in staat is.”

Courtney meen tydens die Mad2Run-week gaan dit vir haar die moeilikste wees om op vreemde ure op te staan en in die koue te draf, maar sy glo ook dis die klein oomblikke wat alles die moeite werd gaan maak. “Met ons oefenlopie in November verlede jaar het ek laat die aand deur die strate van Johannesburg gehardloop terwyl ’n donderstorm in die verte voor ons woeker – dit was ongelooflik. Ek sien uit na vele oomblikke soos dié op die pad na Kaapstad.”

’n Span drawwers tydens die MiniMad-oefenlopie verlede jaar.


*Indien jy wil bydra tot die Mad2Run-veldtog, besoek www.givengain.com. Jy kan Courtney ook borg vir elke kilometer wat sy in die uitdaging aflê – besoek www.eventengine.co.za/MAD.