DROOG EN BESKADIG

Wanneer jy jou hande gereeld was of met handreiniger steriliseer, stroop jy jou vel van vog. Mettertyd raak jou hande droog, grof en selfs jeukerig. Dit is omdat die seep en die alkohol in handreinigingsprodukte wat onsuiwerhede verwyder, jou vel se boonste lipiedlaag beskadig, sê Emmy Stoltz, hoof van spa’s vir die plaaslike spa-en-lyfsorgreeks MatsiMela. Fyn skeurtjies ontstaan dan in jou vel waar kieme kan binnedring en inflammasie veroorsaak.

VERSORG SÓ: 

Dis baie belangrik om elke keer nadat jy jou hande gewas het, ’n goeie handeroom te gebruik. Kies ’n produk met bestanddele soos hialuronsuur, gliserien, galambotter en plantolies wat verlore vog aanvul asook die velwand herstel sodat vog beter ingeseël word. Gebruik ook handwasprodukte wat voedende en strelende bestanddele soos aloe vera of vitamien E bevat. As jou hande buitengewoon droog is, gaan vir ’n salonbehandeling wat spesifiek ontwikkel is om beskadigde hande te vertroetel.

HULP MET VLEKKIES

In sonnige Suid-Afrika kry die agterkant van jou hande byna net soveel sonblootstelling soos jou gesig, veral wanneer jy motor bestuur. Dié daaglikse sonskade lei tot klein, donker vlekke op die agterkant van jou hande en verklap dikwels jou ouderdom die vinnigste omdat dit meer word soos wat jy ouer raak.

VERSORG SÓ: 

Wend, buiten op jou gesig, daagliks ’n goeie sonskerm op die agterkant van jou hande aan en vermy verlengde sonblootstelling op dié dele, sê Emmy. As jy gereeld lang ure bestuur, is dit ’n goeie idee om bestuurshandskoene aan te skaf. Professionele behandelings soos laser, chemiese afskilfering en mikrodermabrasie kan die voorkoms van erge sonvlekke verbeter.

NÓG WENKE

  • Wanneer jy hande was, maak seker jy spoel jou hande deeglik af omdat enige seep wat agterbly, jou vel kan irriteer.
  • Vermy te warm water omdat hoë temperature jou vel vinniger van natuurlike olies stroop.
  • Dra handskoene wanneer jy skottelgoed was of in die tuin werk om skade aan jou hande te beperk.
  • Hou jou hande gesond deur hulle elke nou en dan liggies af te skilfer om selvernuwing aan te help.
  • Smeer gereeld deur die loop van die dag sonskerm aan jou hande, want sodra jy jou hande was, was jy die sonskerm óók af.

As jou hande dié winter ekstra vertroeteling nodig het, is die O.P.I Pro Spa Hand Treatment (R250, by uitsoeksalonne) ’n reuse-bederf. Elke produk wat in die behandeling gebruik word, bevat cupuaçu- botter en ’n antioksidantryke wittee-ekstrak om jou hande intens te bevog en beskerm. Eers is my naels en kutikels mooi versorg, waarna ’n afskilferaar met mikrokristalle gebruik is om dooie velselle op my hande te verwyder. Die terapeut smeer dan ’n ryk masker aan jou hande en seël dit met warm, klam handdoeklappies sodat die masker goed intrek. Daarna word ’n room ingemasseer en ’n serum en ’n unieke seramiedsproei wat ’n beskermende lagie oor jou hande vorm, aangewend. My hande het ná die tyd gevoed en sysag gevoel en my velkleur het helderder gelyk.

* Suanné het Salon Geisha in Johannesburg besoek.