Om ’n geur te kies wat perfek by jóú pas, is nie so ’n eenvoudige taak nie. Jy soek ’n parfuum wat ’n indruk laat, maar nie oorweldigend is nie. Hoe lank die geur op jou vel bly, die seisoen en selfs die tyd van die dag is alles faktore wat ’n rol speel in jou keuse. 

Parfuumkenners stel voor dat jy verskillende geure by die skoonheidstoonbank op die proef stel. Spuit slegs een geur op ’n slag aan en gee die parfuum kans om op jou vel te ontwikkel. Só kan jy later die dag oordeel hoe goed die geur hou en of dit by jou pas voordat jy dit koop. 

Hier deel SA bekendes hul gunsteling-geure. Dalk is dit wonderlike inspirasie vir jou volgende kopie.

Leah

FOTO Instagram / Leah

Vir die Afrikaanse sangeres is dit ’n maklike keuse: Sy is versot op Dolce & Gabbana se The One. “Dis ’n vars en unieke geur. Ek het dit op my troudag gedra, dit bring net goeie herinneringe!”

Dolce & Gabbana The One (R1 545 vir 50 ml EDP) is ’n ikoniese geur met note van eksotiese vrugte, bergamot en perske.

Elana Afrika-Bredenkamp

FOTO Instagram / Elana Afrika-Bredenkamp

“My gunsteling-parfuum is enigiets wat my ma dra. My ma hou nie van diamante en duur goed nie, maar sy dra graag duur parfuum.”  Daar is wel een spesifieke geur wat vir die radio-omroeper en aktrise uitstaan.

Fidji is ’n gesogte parfuum wat slegs by uitsoekwinkels beskikbaar is. “Dit laat dink my aan kleintyd en hoe my ma my ’n rooilipstiffie-soen gegee het voordat sy werk toe gegaan het.”

Suurlemoen, bergamot en jasmyn herinner aan die sonnige Fidji-eilande in Guy Laroche Fidji (R1 495 vir 50 ml EDT). Beskikbaar by uitsoekwinkels

Minki van der Westhuizen

FOTO Instagram / Minki van der Westhuizen

“Ek was nog altyd mal oor parfuum, dis iets duursaam wat ek regtig koester. Ek werk baie spaarsamig met my parfuum. Ek het grootgeword met Dune van Dior wat my ma gebruik het, daai geur vat my onmiddellik terug na ’n vyfjarige Minki.”

Dit herinner haar aan veiligheid, warmte en gelukkige kinderdae. Haar gunsteling is nou Dior se Miss Dior EDP. “Ek is ’n sucker vir enigiets met rose, die blom, die kleur en die geur!”

Dior Miss Dior EDP (R2 650  vir 100 ml EDP) spog met note van sitrus, blomme en aardse patsjoelie.

Tracey Lange

FOTO Instagram / Tracey Lange

Die gewilde radio-omroeper en TV-aanbieder hou daarvan om ’n geur te dra wat by die huidige seisoen pas.

In die somer verkies sy DKNY se Golden Delicious of Estée Lauder Pleasures. “Dis ligter en ek is mal daaroor as mense vir my sê ek ruik lekker.” Thierry Mugler se Angel is haar eerste keuse wanneer dit kouer begin word.  

DKNY Golden Delicious (R1 245 vir 50 ml EDP) het heerlike note van appel, sandelhout en pruim.

Lelie, viooltjie en rose is vars en verfrissend in Estée Lauder se Pleasures (R1 350 vir 50 ml EDP).

Thierry Mugler Angel (R1 570 vir 50 ml EDP) was die eerste sogenaamde gourmand-geur met die verslawende soet kosnote van rooi vrugte, sjokolade en karamel.