Die gewilde SA aktrise Rolanda Marais, SARIE-stylredakteur Fanie Cronjé, SARIE Voorbladgesig 2018-finalis Lieze Schlechter en Hollywood-liefling en Elizabeth Arden-gesig Reese Witherspoon is almal bo 40 en lyk mooier as ooit.

Rolanda, Fanie, Lieze en Reese deel hul beste mooilyk- en gesondwees-wenke.

FOTO Leana Clunies-Ross
FOTO Leana Clunies-Ross

Rolanda Marais

Vir Rolanda was 40 maar net die begin van ’n wonderlike nuwe hoofstuk in haar lewe. Sy is wyser en voel beter oor haarself as ooit tevore. Op 41 straal sy behoorlik.

#1 Ek glo in balans

Om fanaties te wees oor sekere kossoorte uitsny of vyf keer ’n week oefen is eenvoudig nie volhoubaar nie. Ek is baie realisties oor wat ek moet doen om gebalanseerd te leef sonder om heeltyd soos ’n mislukking te voel. Die lewe is klaar hard genoeg, wees maar genadig met jouself.

#2 Ek’s mal oor joga

Noudat ek ’n baba het, is daar nie regtig so baie tyd vir oefen nie, maar ek probeer soveel as wat ek kan ’n jogasessie inwerk. Dis die enigste oefening wat ek geniet. Dit maak my rustig en oefen letterlik elke spier in my liggaam.

#3 Só motiveer ek myself 

Maak ’n afspraak met jouself om te gaan oefen, al is dit net een keer ’n week. Klim dan net in die kar en ry; moenie vir ’n oomblik eers dink nie, want dan sal jy ’n verskoning vind vir hoekom jy nie kan gaan nie.

FOTO Willem Lourens
FOTO Willem Lourens

Fanie Cronjé

Fanie is ’n inspirasie vir enige man as dit by styl en versorging kom. Hy beskou nie net sy voorkoms as belangrik nie, maar ook sy algehele welstand.

#1 Só skop ek die dag af

Fanie volg die SA akteur Kevin Smith se raad: Drink een liter water sodra jy soggens wakker word. “Jy bly gehidreerd en het meer krag, it sets the tone for the day.” 

#2 Afskilfering vir my vel

“Ek het ’n tawwe, olierige vel. My vel is baie dik, daarom sukkel ek met knoppies wat onder my vel vorm. Al wat help, is ’n chemiese afskilfering.” Fanie wissel maandeliks tussen twee afskilferingsbehandelings. Die eerste een help om olierigheid op sy vel te reguleer, terwyl die tweede, die sogenaamde Pixel Peel wat ’n kombinasie van chemiese afskilfering en microneedling is, dooie velselle verwyder en kollageen stimuleer.  “My vel dop heeltemal af en só word ek van al die onsuiwerhede onder my vel ontslae.”

#3 Sagte lippe 

Fanie gebruik Elizabeth Arden se Eight Hour Cream Lip Protectant Stick (R220) om sy lippe sag en bevog te hou. “Jy hoef dit net snags aan te sit vir sagte, bevogte lippe.”

FOTO Leana Clunies-Ross
FOTO Leana Clunies-Ross

Lieze Schlechter

Lieze was onder die 10 finaliste in verlede jaar se SARIE Voorbladgesig-wedstryd. Dié ma van drie is ’n getroue drawwer en glo in die filosofie van minder is meer.

#1 Matigheid voor oë

“Ek probeer gesond eet, maar in die winter is dit moeilik. Ek eet waarvoor ek lus is, maar doen alles in matigheid.”

#2 Ek is ’n drawwer

“Ek glo daaraan om die hartklop bietjie op te kry en bly fiks deur so vier keer ’n week te draf.” Lieze erken self dat haar bene een van haar beste bates is.

#3 Minder is meer

“Goeie grimering hoef nie te beteken dat dit aangeplak word nie, ek dra net maskara en ’n helderkleurige lipstiffie.” Sy bewys dat ’n ouer vel nie weggesteek hoef te word nie. Plaas klem op jou oë met welige wimpers en verhelder jou voorkoms met jou gunsteling-lipstiffie.

FOTO Verskaf / Elizabeth Arden
FOTO Verskaf / Elizabeth Arden

Reese Witherspoon

Die Amerikaanse aktrise en die gesig van Elizabeth Arden het vroeër vanjaar 43 geword. Vroue bewonder haar foutlose voorkoms en wil graag weet wat haar geheim is.

#1 Sy gaan nêrens sonder retinol nie

Reese gebruik Elizabeth Arden Retinol Ceramide Capsules Night Erasing Serum (R565), ’n suiwer vorm van vitamien A. Dit help om velveroudering teen te werk deur kollageenvervaardiging te stimuleer. Dit behandel donker vlekke om jou veltekstuur en -gelaat beter te laat vertoon. Die kapsules bevat die regte hoeveelheid retinol serum wat nodig vir jou gesig, nek en décolletage is. 

#2 Bly gehidreerd

Reese word gereeld met ’n waterbottel in die publiek gewaar. Om gehidreerd te bly help om jou sirkulasie te verbeter en sodoende voedingstowwe deur jou hele liggaam te versprei. Boonop hidreer dit jou velselle wat ’n gloeiende gelaat tot gevolg het. 

#3 Skoonheid strek verder as die uiterlike

Vir Reese gaan skoonheid óók oor hoe jy voel. Haar ma het haar geleer om daagliks te probeer om met ’n vreugdevolle houding op te staan. “Dis die beste skoonheidsraad wat ek aan enigiemand sal gee.” Dit wat jy kies om te lees en met wie jy jouself omring het alles ’n invloed op hoe jy die beste weergawe van jouself kan wees.

LEES HIER

Vir meer inligting besoek Elizabeth Arden se webtuiste.

Elizabeth Arden Retinol Ceramide Capsules en Elizabeth Arden se Ceramide-reeks is beskikbaar by uitgesoekte kettingwinkels. 

Elizabeth Arden se Retinol Ceramide FOTO Verskaf
Elizabeth Arden se Retinol Ceramide FOTO Verskaf