Ware skoonheid is om die beste weergawe van jóúself te wees. Wat is dan mooier as ’n vrou wat haar goed versorg, sowel as haar gelaatstrekke en dit wat haar uniek maak, omarm?

Maar dié reis is nie altyd so maklik en eenvoudig nie. Dis waar raad van ander, ander vroue wat jou dalk inspireer of meer ervaring het, handig te pas kom. Die SARIE-skoonheidspan het die keer nie by kundiges se deure aangeklop nie, maar eerder by ons lesers.

Verskeie SARIE-lesers het wonderlike skoonheidsraad gedeel. 

Kyk net hier:

#1

Alda de Villiers deel raad om jou olierige vel tot jou voordeel te gebruik: “Annique Theron het in die vroeë 80’s vir my gesê omdat ek ’n olierige vel het, moet ek saans my vel goed skoonmaak en soggens as ek wakker word my natuurlike olie op my vel inmasseer, veral rondom my oë. Na al die jare doen ek dit steeds, ek is nou 62 en het nie plooie nie.”

Hoe dan so?

Dis tog belangrik om nie jou gesig oormatig te reinig nie, dit kan jou vel dehidreer. Jou vel se natuurlike olies help om jou vel bevog en gevoed te hou. Volgens Healthline.com verouder olierige veltipes effens anders. As jy ’n olierige veltipe het, is jou vel beter bevog en lyk daarom meer plomp. “’n Olierige vel is geneig om effe dikker te wees as gevolg van meer vetkliere wat daartoe lei dat lyntjies minder prominent lyk.” As jy hierdie raad op die proef wil stel, kan jy in die oggend jou gesig met slegs ’n gesigsproei verfris om vars te voel.

FOTO Instagram / Lulu & Marula

#2

Lezandré van der Merwe deel haar geheim vir witter tande: “Borsel jou tande met geaktiveerde houtskool. Sit bietjie tandepasta op jou tandeborsel en druk dit in die bottel en borsel, borsel, borsel.”

Hoe werk dit?

Geaktiveerde houtskool is ’n suiwer vorm van koolstof. Dit word verkry wanneer houtskool in die teenwoordigheid van ’n gas soos suurstof verhit word om enige onsuiwerhede uit die houtskool te verwyder. Dít verbeter die houtskool se absorberingsvermoë. Koffie, rooiwyn, tabak en enige donker gekleurde kos en –drank veroorsaak dikwels dat die boonste laag van jou tande se emalje vlek. Deur ’n tandepaste of mondproduk wat geaktiveerde houtskool bevat kan jy help om geelheid en vlekke op jou tande ligter te laat lyk.

Pas op! Moenie jou tande daagliks met ’n houtskool-produk borsel nie. As jy dit te veel gebruik kan dit jou tandemalje beskadig. Gebruik dit maandeliks en nie opeenvolgend nie.

FOTO Instagram / Venü

#3

“Sit sonbrandroom nie net aan jou gesig nie, maar ook bo-op jou hande en op jou bors,” sê Leze Hurter Neale-May. 

Hoekom is dit so belangrik?

Ons hande en borsarea word net soos ons gesig, gedurig aan die son blootgestel. Dié daaglikse sonblootstelling lei tot sonskade wat moontlik vinniger jou ouderdom kan verklap as die fyn lyntjies op jou gesig. Dis ook omdat hierdie areas baie minder vetkliere het, wat beteken dit word maklik gedehidreer en is daarom meer vatbaar vir fyn lyntjies, plooie en pigmentasie.

FOTO Getty Images / Gallo Images

#4

“Gebruik Vaseline om jou grimering af te haal,” sê Bianca Rennison.

Hoekom petroleumjellie kies?

  • Dit vorm ’n beskermende laag op jou vel.
  • Dit herstel en beskerm jou vel teen droogheid en seël vog in.
  • Dit kalmeer ’n geïrriteerde vel.
  • Klein snytjies en brandwonde genees vinniger.
  • Jou vel bly sag.
  • Dit help om jou vel bevog en gehidreerd te hou.
  • Dit gee jou vel ’n gesonde gloed.
FOTO Instagram / Skoon Skin

#5

“Moet nooit met grimering aan gaan slaap nie,” sê Esme Duvenhage.

Dís hoekom:

Oogirritasie en -infeksie          

Ooggrimering wat heelnag op jou vel bly, kan tot droogheid, rooiheid, irritasie en selfs ’n infeksie van die oë lei.          

Plooie

Ou grimering kan die skadelike uitwerking van vrye radikale vererger. Dit lei weer tot die afbreek van kollageen, wat jou vel vinniger kan laat verouder. 

Verstopte porieë en puisies

Jou vel is oortrek met porieë waardeur jou vel asemhaal, sweet en sebum vrystel. Grimering kan in dié porieë gaan lê en dit verstop, wat puisies kan veroorsaak.

Droë vel

’n Vel wat nie kan asemhaal nie, sal uitdroog en skilferagtig word. Dit lei weer tot verminderde elastisiteit, wat plooie duideliker kan maak.

Verstopte wimper-follikels

Ooggrimering soos oogomlyner en maskara kan die klein wimper-follikels en oliekliere in jou ooglede verstop. Dit kan tot inflammasie lei en jou wimpers laat uitval.

Vaal, lewelose vel

Jou vel is jou liggaam se grootste orgaan. Ou grimering, dooie selle en olierigheid wat nie behoorlik afgespoel word nie, “versmoor” jou vel. Dit lei tot aknee en ’n lewelose, vaal voorkoms. 

Herstelproses versteur

Jou vel kry kans om te herstel en te vernuwe terwyl jy slaap. Sebum word vrygestel wat die vel hidreer en teen vrye radikale in die lug beskerm. Hierdie belangrike proses word versteur as jy met grimering slaap.

FOTO Getty Images / Gallo Images

#6

Marinda van der Merwe het nes talle lesers na die belangrikheid van afskilfering verwys. “Daai dooie vel hoop net op en jou grimering lyk horrible.”

Hoekom is afskilfering noodsaaklik?

Dit help om dooie selletjies op die boonste laag van jou vel (epidermis) te verwyder. Die opeenhoping van dooie velselle veroorsaak verstopte porieë, ’n oneweredige veltekstuur en ’n vaal gelaat. Dit keer ook dat aktiewe rome makliker deur jou vel kan penetreer. Afskilfering sorg vir ’n gladde, egalige veltekstuur. Grimering wend dan makliker en gladder aan. Die gereelde afskilfering kan ook die voorkoms van littekens, vlekke, donker merke en fyn lyntjies verbeter.

FOTO Instagram / Hung Vanngo

Bronne: www.healthyskinglows.com, www.healthline.com