Volgens die aanlyn-woordeboek Pharos word skoonheid as “hoedanigheid van mooi wees, mooiheid,” omskryf. Woorde sinoniem met skoonheid soos mooiigheid, fraaiheid, aantreklikheid, pragtigheid, verruklikheid en skilderagtigheid definieer die idee van skoonheid perfek.

FOTO Instagram / Elle UK

Ja, die uiterlike vergaan, maar as die binnekant reeds mooi is, dan mag jy dit mos na buite te dra. Die grimeerkunstenaar Suna Robberts het tydens die afgelope week se #Dinsdagdromer juis verwys na hoe lekker dit is om dié dop (ons uiterlike) mooi te maak.

Lyk jy op jou beste, voel jy op jou beste. Só werk ons innerlike en uiterlike saam. Dis belangrik om na die heel beste weergawe van onsself te streef en dalk is jou geheime wapen ’n smeulende geur of bloedrooi lipstiffie wat jou gemoed en selfvertroue net daai ekstra hupstoot gee wat jy broodnodig het.

Dié 7 riglyne moet jy nooit vergeet nie:

1. Moenie die krag van velsorgprodukte onderskat nie

Dis te danke aan wonderlike navorsing, studies, proeflopies en formulerings dat winkelrakke met top-gehalte velsorgprodukte pronk. Jy moet net seker maak dat jy die korrekte velsorg vir jóú vel se behoeftes kies. Gaan lees op oor die produkte of raadpleeg jou dermatoloog. Die regte bestanddeel in ’n spesifieke produk kan jou vel op sy mooiste laat lyk deur verkleuring reg te stel, veroudering te help vertraag, velkanker te help voorkom en erge aknee stop te sit.

FOTO Instagram / H&M

Een van dié bestanddele is dalk net wat jou vel nodig het:

Vitamien C

Dit bevorder kollageenvervaardiging, voorkom verkleuring en pigmentasie, verminder donker kringe en help jou vel om vog te behou. Lees meer hier.

FOTO Unsplash / Noah Buscher

Retinol

Dié kragtige bestanddeel is ’n vorm van vitamien A en het die vermoë om kollageenproduksie te stimuleer sodat jou vel plomper en jeugdiger lyk. Dit skilfer ook onsigbaar die boonste deel van jou vel af vir ’n gladder, stralende gelaat en behandel aknee, donker vlekke (pigmentasie), plooie en fyn lyntjies. Boonop normaliseer dit jou vel se natuurlike bevogtigingstelsel! Lees meer hier.

Hialuronsuur

Dit hou jou vel gehidreerd en laat dit gloeiend lyk. Dit help ook om fyn lyntjie en plooie sagter te laat vertoon. Lees meer hier.

FOTO Getty Images / Gallo Images

Lees meer hier oor ander superbestanddele.

2. Dit wat jy inneem en hoe jou vel lyk, is onafskeidbaar

Volgens Anneen Middel, dieetkundige van Pretoria, vind velveroudering om twee redes plaas: "Eerstens verouder jou vel biologies van binne soos wat jy ouer word. Eksterne faktore soos sonblootstelling, min slaap en ’n swak dieet het ook ’n invloed. Navorsing wys dat die inname van antioksidante jou vel teen vrye radikale beskerm. Vrye radikale breek kollageen af wat tot fyn lyntjies en ’n verlies aan fermheid lei. Deur voedselsoorte ryk aan vitamiene A, C en E in te neem kan jy jou vel help om homself beter teen die eksterne aanslae te beskerm.”

FOTO Unsplash / Ali Inay

Alkohol is ook sleg vir jou vel. Verhoogde alkohol-inname het ’n negatiewe invloed op jou liggaam se vermoë om antioksidante en vitamiene te absorbeer. Antioksidante is noodsaaklik vir die vervaardiging van kollageen en elastien. Boonop versterk dit jou vel en help om jou vel soepel te hou. Verder kan alkohol tot dehidrasie en inflammasie lei.

Moenie van suiker vergeet nie. Hoë bloedsuikervlakke verminder die kollageen wat in ons vel aangetref word. Suikermolekules bind met kollageen en veroorsaak dat die kollageen hard word en nie meer so doeltreffend vervroegde velveroudering kan teenwerk nie, berig Elle aanlyn.

Probeer die lekker resepte om jou vel van binne te voed.

3. Hoe vroeër jy ’n oogroom begin gebruik, hoe beter

Die vel om ons oë is baie dun en het minimale oliekliere. Dis van die eerste areas wat al in jou twintigs velveroudering kan wys. Gebruik ’n oogroom wat peptiede bevat, want dit stimuleer kollageenproduksie wat fyn lyntjies help voorkom. Dis noodsaaklik om al in jou twintigs ’n goeie oogroom te begin gebruik.

FOTO Instagram / Catrice Cosmetics

4. Slaap en grimering hoort nie saam nie

Jou arme vel kan nie voldoende herstel en vernuwe as jy met grimering gaan slaap nie. Dit dra tot plooie, verstopte porieë en ’n droë vel by. Leer jouself aan om jou aand-velsorgroetine as ’n bederf te benader, dis tyd vir jouself en jou toekomstige self sal jou ewig dankbaar wees! Lees meer hier.

FOTO Instagram / Elle USA

5. ’n Wimperkruller is net wat jou wimpers nodig het

Die nut van ’n wimperkruller word onderskat. Tog maak dit ’n merkbare verskil aan jou voorkoms. Dit help om jou wimpers volume en lengte te gee en dan het jy nog nie eens maskara gebruik nie! Gekrulde wimpers vertoon jeugdig en romanties en laat jou oë groter en wyer lyk. Lees meer hier

FOTO Instagram / Cynthia Royer

6. Durf die wêreld aan met die regte lipstiffie

Wat is ’n grimeervoorkoms sonder mooi, afgeronde lippe? Moenie huiwer om kleur op jou lippe te dra nie. “Nie net verleen dit ’n jeugdiger voorkoms nie, dit wys ook jy glo in jouself en het die waagmoed om die lewe aan te pak,” sê Marike Nel, SARIE Voorbladgesig 2013. Lees meer hier

FOTO Instagram / Pat McGrath

7. Waag met jou kroon

Moenie bang wees om jou hare te knip of te kleur nie. Die wonderlike is dat ons hare weer groei. Jy moet verandering omarm en seker maak dat jou haredos jou altyd komplementeer. Daar is niks meer gepas as ’n nuwe haarstyl om ’n nuwe fase of opwindende gebeurtenis in jou lewe te help verwelkom nie. Kliek op die Mooi-skakel op SARIE.com en soek vir die hare-kategorie vir die mooiste haarinspirasie.

FOTO Instagram / Poetry