Hoe witter, hoe mooier. Wie begeer nie 'n sprankelende, spierwit glimlag nie? Dit gee jou selfvertroue 'n hupstoot en skep 'n blywende indruk.

Daar is talle faktore wat 'n rol in die witheid van jou tande speel. Twee van die belangrikstes is die dikte van jou tandemalje en die sigbaarheid van vlekke. Dis waar genetika 'n rol speel. Jou gene beïnvloed die dikte, kleur en kwaliteit van jou tandemalje. Hoe dikker dit is, hoe minder is vlekke sigbaar. Dunner tandemalje is geneig om meer deursigtig te wees en makliker vlekke en verkleuring te wys.

Wenk
Die tydskrif Elle berig aanlyn dat enige kossorte wat jou klere kan vlek, ook heel moontlik jou tande kan vlek. 

Probeer dié wenke:

1. Koeksoda en waterstofperoksied

Meng een deel waterstofperoksied met twee dele koeksoda. Borsel jou tande met die mengsel om van vlekke ontslae te raak.

2. Borsel jou tande korrek

Dis belangrik om minstens twee keer per dag jou tande te borsel om van nuwe vlekke en verkleuring ontslae te raak. As jy nie met 'n elektriese tandeborsel borsel nie, is dit noodsaaklik om vir so 'n minuut of wat ekstra te borsel. Moenie te hard borsel nie, dit kan jou tandemalje beskadig. Borsel in sirkelbewegings egalig oor jou tande. Moenie vergeet om jou tande te vlos nie.

3. Drink en eet slim

Eet vars groente en vrugte wat op 'n natuurlike wyse jou tande wit hou. Aarbeie is 'n goeie keuse, dit bevat sure wat help om vlekke te verwyder. Vermy te veel suurlemoen, lemmetjie en pomelo, wat sitroensuur bevat wat jou tandemalje kan beskadig.

4. Kies die regte tandepasta

Die nuutste tandepasta-formulerings fokus op jou mondhigiëne en -gesondheid in geheel, nie net jou tande nie. Daar is goeie produkte wat beloof om vlekke, verkleuring en plaak te verminder, jou tandvleis se sensitiwiteit te verbeter en selfs jou tandemalje te versterk. Gesonde tandvleis sal jou tande blinker en witter laat lyk.

Probeer dié produkte:

Colgate Total 12 Advanced Whitening, Multi-benefit Toothpaste (R26)

Die nuwe formule bevat sink en arginien, wat jou tande, tandvleis, tong en wange 12 uur lank beskerm.

Listerine Advanced White Multi-action Mouthwash (R77)

Die mondspoel verwyder en voorkom vlekke en vorm 'n beskermende lagie bo-oor jou tande om nuwe vlekke en verkleuring te voorkom.

Johnson & Johnson Reach Expansion Plus Dentotape (R45)

Die vlos is met was geseël om maklik tussen jou tande te beweeg om van plaak ontslae te raak. 

Bronne: www.allure.com, www.elle.com