Die Covid-19-pandemie het Suid-Afrikaners se alledaagse lewe ingrypend verander en almal moes byna oornag aanpas by die realiteit van die staat van inperking wat Donderdag om middernag vir 21 dae in werking tree. 

Ons almal het dieselfde bekommernisse: Kan ek steeds kos gaan koop? Gaan daar genoeg voorraad op die rakke beskikbaar wees? Wat van my ouers en grootouers? Almal besef ook ons sal ekstra spaarsamig met ons bestaande voorrade moet wees. 

Dit geld natuurlik ook jou skoonheidsprodukte. Daar is wel ’n paar slim maniere om seker te maak dat produkte soos sjampoe, onderlaag, gesigwas en lyfroom langer hou. 

Maak so ...

Met jou sjampoe:

  • Maak seker dat jou hare goed nat is voordat jy sjampoe aanwend. Dit maak die haarkutikels oop sodat minder sjampoe nodig is om jou hare mee te was. Die sjampoe sal dan ook makliker skuim maak en beter deur jou hare versprei.
  • Jy benodig nie meer as ’n klein muntstuk van jou sjampoe nie, tensy jou hare baie lank is.
  • Fokus op jou kopvel, want dis die area wat behoorlik gereinig moet word vir skoon hare. Gebruik die sjampoe wat oorbly van jou kopvel vir jou haarlengtes.
  • Gebruik droë sjampoe tussen wasdae om oortollige olie by die haarwortels te absorbeer. Dan hoef jy net elke tweede of derde dag jou hare te was.
FOTO Unsplash / Element5 Digital

Met jou velsorgprodukte:

Ons is geneig om te veel van ons velsorgprodukte aan te wend. Goeie produkte bevat kragtige formules waarvan jy minder benodig om jou vel steeds voldoende te reinig, voed en bevog. Begin eerder met ’n klein hoeveelheid voor jy besluit of dit nodig is om meer aan te wend.

  • Jy benodig net ’n kersiegrootte van jou reiniger of afskilferaar.
  • Danksy die hoë konsentrasie van aktiewe bestanddele is slegs ’n ertjiegrootte van jou serum nodig.
  • Die grootte van ’n sonneblomsaad is genoeg oogroom vir albei jou oë. 
  • Wend die grootte van ’n amandel van jou dag- of nagroom aan. 
  • Sonskerm is steeds nodig al bly jy tuis, want ons moet ons vel ook teen bloulig beskerm. Wend net ’n kersiegrootte vir jou gesig en nekarea aan.
  • As jy ’n room gebruik wat spesiaal vir jou nek en halslyn geformuleer is, is ’n bessiegrootte genoeg.
FOTO Unsplash / Christin Hume

Met jou grimering:

Die volgende 21 dae is die ideale tyd om minder grimering te gebruik en jou vel ’n blaaskans te gee. As jy die huis moet verlaat, in een van die kritieke sektore werk of ’n Skype-vergadering het, kan jy jou grimeervoorkoms eenvoudig en minimalisties benader.

  • Wend liggies ’n BB-room pleks van onderlaag aan sodat jou gelaat steeds foutloos lyk.
  • ’n Tikkie verbronser of blosser sal dadelik jou gesig ophelder en afgerond laat lyk.
  • As jou gunsteling-lipstiffie amper op is, dra ’n voggewende lipbalsem om jou lippe plomp en vars te laat lyk.
  • Twee lae maskara sal jou oë dadelik oop en wakker laat lyk, meer as dit is nie nodig nie.
FOTO Unsplash / Kevin Laminto

Bronne: www.stylecaster.com