Danksy Meghan Markle beleef sproete ’n oomblik, en ons dink dis hoog tyd!

Die nuwe hertogin van Sussex het nog nooit probeer om haar sproete weg te steek nie. Trouens, Meghan maak geen geheim daarvan nie dat sy dit haat as tydskrifte haar sproete uit foto’s redigeer. Selfs op haar koninklike troudag was haar kenmerkende sonsoentjies duidelik sigbaar onder haar grimering. 

Volgens Elle gebruik Meghan graag Dior se Backstage Face and Body Foundation omdat dit haar vel net liggies bedek en nie haar sproete verbloem nie.

Sproete straal jeugdigheid, gesondheid en individualisme uit. Marlize Heppell, ’n kliniese sielkundige van Klerksdorp, meen dat Meghan se sproete kom “in ’n tydfase waar mense oor die algemeen meer natuurlik probeer lyk en sproete meer aanvaarbaar geword het”.

Dit is tyd om jou unieke sonvlekke te vier wat tot jou individualiteit en skoonheid bydra. SARIE het met die plaaslike nuusverslaggewer Daniëlla van Heerden oor haar unieke sonsoentjies gesels.

FOTO: Instagram / @dannisnaps

Vir Daniëlla is haar sproete deel van wie sy is: “Ek het my sproete al van jongs af en dit is deel van my identiteit. Soos ek ouer word, hou ek al hoe meer daarvan. Seker maar omdat mens as kind soos die groep wil wees, maar as volwassene meer jou individualiteit vier. Gelukkig is my man, Cornél, ook gek na sproete en ek kry gereeld komplimente daaroor!”

Daniëlla vertel as gevolg van die swaar grimering wat sy op TV dra (weens die baie helder en warm ateljeeligte is baie grimering nodig) besef mense nie altyd hoe baie sproete sy het nie. “Wanneer ek nuus lees, word dit verbloem deur die grimering wat ons dra. Mense is dus dikwels verbaas wanneer hulle my die eerste keer in lewende lywe sien, so met sproete en al. Wanneer ek nie werk nie, gee ek my vel ’n blaaskans van die baie onderlaag, dan dra ek my grimering meestal só dat my sproete wys.”

Sy is baie optimisties oor die erkenning en waardering vir natuurlike gelaatstrekke soos sproete. “Alles wat iemand uniek maak, kan en moet myns insiens gevier word. Dis vir my baie aantreklik wanneer ’n man of vrou ’n sonderlinge eienskap - hetsy dit vlamrooi hare, sproete, geboortevlekke of ’n gaping tussen die voortande is - omhels en daarvan eienaarskap neem.”

FOTO: Instagram / @dannisnaps

Beklemtoon só jou sproete

Natuurlike grimering is ’n hulpmiddel wat jou sproete kan uitlig en komplementeer. Die grimeerkunstenaar agter Skoonlief, Suzanne Potgieter, deel ’n paar wenke oor hoe om natuurlik te grimeer en nie jou sproete in die proses te verbloem nie.

* ’n Behoorlik gehidreerde vel met ’n natuurlike gloed is belangrik. Wees op die uitkyk vir produkte met hialuronsuur, wat die vel opplomp en help bevog.

* Gebruik net soveel onderlaag as wat nodig is. “Jy bepaal die bedekking wat jy wil hê deur bloot meer of minder onderlaag aan te wend.” Suzanne stel BB-room voor: ’n getinte vogroom, onderlaag en dikwels sonskerm in een wat sorg vir ligte bedekking.

* Wend net ’n ligte laag deursigtige gesigpoeier met ’n groot borsel aan.

* Sit blosser op jou wange vir ’n jeugdige gelaat.

* Gebruik oogomlyner in ’n bruin skakering en wend een of twee lae maskara aan. Kam jou wenkbroue netjies.

* Kies vir jou lippe ’n nude of koraalkleur lipstiffie.

Probeer dié produkte:

Neutrogena Hydro Boost Gel Cream (R129)

Smashbox Photo Finish Primer Oil (R525)

The Body Shop All in One BB Cream (R240)

Garnier Pure Active BB Cream (R125)

M.A.C Studio Face and Body Foundation (R585)

Laura Mercier Loose Setting Powder (R1 215)

Yardley Absolute Translucent Loose Powder (R149)

M.A.C Powder Blush in Springsheen (R305)

Rimmel Brow This Way Gel (R100)

M.A.C Amplified Lipstick in Vegas Volt (R245)

M.A.C Amplified Lipstick in Girl About Town (R245)

Stila Heaven’s Hue Highlighter in Kitten (R580)