Skoonheidstoonbanke kan soms intimiderend wees. Die rakke staan tot oorlopens toe vol met ’n wye verskeidenheid van grimering, velsorg- en haarsorgprodukte. Soms voel jy oningelig en wens dat iemand vir jou raad kan gee.

Ander kere kyk jy skaars na die rak met die pragtige lipstiffies en voel dit vir jou of die winkelassistent jou reeds oorweldig. Dis nie nodig om so te voel nie, dis ’n lekker geleentheid om rond te speel en seker te maak dat jy die regte produk vir jóú behoeftes kies.

Dis wel belangrik om nie van die volgende wenke te vergeet nie, probeer om dié flaters by die skoonheidstoonbanke te vermy ...

1. Moenie die monsters direk op jou gesig toets nie

Probeer om die monsters nie naby jou mond, neus en oë aan te wend nie. Aangesien talle verbruikers die produkte op die proef wil stel, is dit die ideale plek vir kieme. 

Oplossing:

Vra die winkelassistent vir ’n toetsgroot buisie wat jy tuis kan probeer voor jy die produk koop.

2. Moenie kla oor die prys van ’n produk nie

Ja, skoonheidsprodukte kan baie duur wees. Dis nie gepas om by die winkelassistent daaroor te kla nie, die winkelassistent is slegs die middelman tussen die verbruiker en die handelsmerk.

Oplossing:

Vra vir die winkelassistent om aan jou te verduidelik hoekom die produk as meer luuks en duursaam beskou word. Jy kan ook vra watter alternatiewe sakpas opsies op die winkelrakke beskikbaar is.

3. Moenie aanvaar dat die winkelassistent die duurste produk aan jou probeer verkoop nie

Nie alle winkelassistente verdien noodwendig kommissie op die produkte wat hulle verkoop nie. 

Oplossing:

Lig vooraf die winkelassistent van jou begroting in.

4. Moenie die monsters inspan om jou hele grimeervoorkoms in die winkel te verander nie

Monsters help jou om die regte keuse oor ’n spesifieke produk te neem. Dis nie gepas om die spieël te beset en jou hele gesig daar in die winkel in te kleur nie.

Oplossing:

Vra die winkelassistent of jy ’n afspraak kan maak om jou met jou grimeervoorkoms te help. Party skoonheidstoonbanke bied grimeersessies aan. Dis ook ’n goeie opsie vir as jy ’n spesiale geleentheid gaan bywoon. 

ONTHOU
Maak net vooraf seker of daar enige kostes aan verbonde is. Party handelsmerke vereis dat jy eerder van die grimeerprodukte ter waarde van ’n sekere bedrag koop. 

Bronne: www.insider.com, www.today.com