Teen dié tyd het jy hopelik al goed tuis aangepas en alternatiewe oplossings vir belangrike take, sonder die hulp van die buitewêreld, bedink.

Moenie vergeet om tyd vir jouself te prioritiseer nie. Dit sal jou gemoed lig én onderliggende stres verminder in hierdie tyd van onsekerheid. 

Begin sommer by jou vel: ’n heerlike gesigmasker is altyd ’n wenner! Dit sal jou ontspanne laat voel, help om jou vel te detoks, verstopte porieë voorkom en jou gelaat glansend laat. ’n Masker is die antwoord om tekens van spanning op jou gesig te beveg. Dit voed jou vel en help met probleme wat gewoonlik nie in jou daaglikse velsorgroetine aandag kry nie. Dis boonop maklik om tuis te gebruik.

Probeer een van dié gesigmaskers:

Christi Panagio se DIY-masker

FOTO Instagram / Christi Panagio

Christi Panagio, aktrise en TV-aanbieder, het in SARIE se April 2019-uitgawe haar beste gewoontes gedeel. Haar DIY-masker het lesers se aandag getrek. Dis maklik en jy behoort al die bestanddele reeds in die huis te hê:

Meng ’n eetlepel elk suikervrye jogurt, organiese kakao en rou heuning en wend dit oor jou hele gesig aan. Spoel dit ná so 20 minute af. Sy sê haar vel voel dadelik bevog en het ’n gesonde gloed ná sy die masker gebruik het.

Kosmetiese sjef se pynappel-en-hawermoutensiem-gesigmasker

FOTO Unsplash / Pineapple Supply Co.

Pynappel is ryk aan vitamien C en antioksidante. Die ensieme in pynappel help om dooie velselle sagkens af te skilfer en jou gelaat te verhelder. Hawermout help om skade aan jou vel te herstel en streel inflammasie. Olyfolie voed en bevog jou vel. 

Plaas 100 g fyngekapte vars pynappel, 2 eetlepels hawermout en 1 eetlepel olyfolie in 'n voedselverwerker. Verwerk tot puree.  Wend die puree op jou skoon vel aan en spoel ná 15 minute af met warm water.

Besoek Conny Oberrauter se webblad vir meer inligting oor haar resepte. 

Gesigmasker met komkommer, heuning en jogurt vir ’n helder vel

FOTO Unsplash / Michael Longmire

Meng ’n halwe komkommer, ’n eetlepel heuning en ’n eetlepel Griekse jogurt in ’n voedselverwerker saam. Wend dit oor jou hele gesig aan en was dit ná sowat 15 minute met louwarm water af. Die komkommer en jogurt bevog, terwyl die heuning anti-inflammatories is en help om ’n veluitslag te kalmeer.