Dié kragtige bestanddeel is ’n vorm van vitamien A en het die vermoë om kollageenproduksie te stimuleer sodat jou vel plomper en jeugdiger lyk. Dit skilfer ook onsigbaar die boonste deel van jou vel af vir ’n gladder, stralende gelaat en behandel aknee, donker vlekke (pigmentasie), plooie en fyn lyntjies. Boonop normaliseer dit jou vel se natuurlike bevogtigingstelsel!

Hoe gebruik ek dit?

Wend retinol aan saans nadat jy jou vel gereinig het. Jy hoef nie jou bestaande velsorgroetine te verander nie, jy kan net retinol byvoeg.

Verskillende maniere om retinol aan te wend:

Retinol is baie gekonsentreed, dus het jy net ’n klein bietjie nodig. Wend dit korrek aan om ’n negatiewe velreaksie te vermy.

1. As serum

Serums bevat hoë konsentrasies van teenverouderingsbestanddele en antioksidante. Dis ’n vloeistof met ’n liggewig-tekstuur. Danksy die aktiewe bestanddele dring dit dieper in jou vel in as die epidermislaag.

Esse Serum (R360). Beskikbaar aanlyn by www.faithful-to-nature.co.za

2. In ’n olie

’n Olie bevat vitamiene wat jou vel herstel en beskerm. Ryk gesigolies is vir enige veltipe geskik. Wend olie aan die einde van jou velsorgroetine aan om vog binne te hou. Dit voed jou vel, hou dit sag, help om inflammasie te verlig en velelastisiteit te verbeter.

REN Bio Retinoid Anti-Ageing Concentrate (R905). By Clicks

3. In kapsulevorm

Die kapsule word oopgemaak om die retinol op jou vel aan te wend. Die kapsulevorm is ideaal aangesien dit net die regte hoeveelheid is om te gebruik en só bly die formule vir langer vars.

Elizabeth Arden Retinol Ceramide Capsules Line Erasing Night Serum (R565)

Bron: www.vogue.co.uk