Verstopte en vergrote porieë is ’n algemene velprobleem. Geen wonder nie, want daar is ongeveer 20 000 porieë net op jou gesig!

In die skoonheidswêreld word daar na ’n vlekkelose, egalige en glansende veltekstuur gestreef. Boonop het die glass skin-skoonheidsgier nóg meer klem hierop geplaas. ’n Vel soos glas verwys juis na ’n gelaat wat so glad, egalig en glansend is dat dit lyk asof dit lig reflekteer.

Die grootte en voorkoms van ons porieë word deur faktore soos genetika, ouderdom en ons veltipe bepaal. Lees hier.

Hoewel dit onmoontlik is om van vergrote porieë ontslae te raak, is daar slim maniere om die voorkoms daarvan te verbeter. Begin deur seker te maak jou porieë verstop nie.

Wat is porieë?

Dis klein openinge in jou vel waardeur olie en sweet van onder jou vel uitgelaat word. Die olie wat uitgelaat word, word ook sebum genoem en help om jou vel gesond en soepel te hou deur te keer dat vog ontsnap.

Volg dié wenke:

Maak seker dat jy jou vel deeglik reinig

Deur net jou gesig vinnig met seep af te spoel gaan nie help nie. Die vuiligheid bly agter en jou vel se natuurlike olies word gestroop. Vermy ook te sterk reinigers wat jou vel se natuurlike olies stroop en kan veroorsaak dat jou vel meer olie vervaardig, wat ook tot verstopte porieë kan lei.

Dis belangrik om soggens en saans goed te reinig. Kies ’n gebalanseerde reiniger wat jou vel hidreer en voed, maar óók vuiligheid en onsuiwerhede behoorlik verwyder. 

Span sure in

Sure help om ontslae te raak van dooie velselle wat opbou en jou porieë verstop. Dit kan ook selvernuwing stimuleer wat kan help om jou veltekstuur gladder te laat vertoon. Soek vir produkte wat bestanddele soos salisielsuur, amandelsuur en melksuur bevat. Daar is wonderlike produkte vir tuisafskilfering wat dié kragtige sure bevat. Moet verkieslik nie meer as twee keer ’n week afskilfer nie.

Pasop vir te veel olie

Oliekliere in jou porieë skei sebum af wat deur die porie-openinge na jou veloppervlak dreineer om dit te voed. In sommige gevalle vervaardig die kliere te veel olie en verstop die porieë. Moontlike oorsake van oortollige olieproduksie is hormoonskommelinge, jou genetika, erge spanning en sekere medikasie. Mense met ’n olierige veltipe sukkel veral met dié probleem.

Probeer dié produkte:

Eucerin Dermo Purifyer Oil Control Cleansing Gel (R180)

Estée Lauder Perfectly Clean Multi-Action Toning Lotion & Refiner (R565)

Hey Gorgeous Pore Perfection Pore Tightening Serum (R299).

Aanlyn beskikbaar by www.faithful-to-nature.co.za

Gatineau Paris Clear & Perfect Sebo-regulating Concentrate (R640)

REN Clarimatte Invisible Pores Detix Mask (R450)

Bron: www.vogue.co.uk