FOTO: Instagram / @kaiagerber

Ons almal begeer ’n gesonde, glansende vel, maar dikwels is daar ’n paar alledaagse dinge en gewoontes wat verstopte porieë en puisies veroorsaak sonder dat jy dit eens besef. Pasop vir dié sondaars …

#1 Jou beddegoed

Mikroskopiese deeltjies, stof, bakterieë en sweet kan maklik tussen die materiaaldraadjies van jou kussingsloop en ander beddegoed vasgevang word. Dit vryf snags op jou vel af en vergroot die kans dat jy puisies kry. Trek gereeld skoon beddegoed oor of belê in ’n kussingsloop van satyn. Satyndraadjies is stywer en nader aan mekaar geweef sodat onsuiwerhede nie so maklik daarin vasgevang word nie.

#2 Jou haarprodukte

Gebruik jy daagliks haarstileringsprodukte? Haarprodukte wat op jou vel beland, kan verstopte porieë op jou voorkop en al langs jou haarlyn veroorsaak. Dit kan ook gebeur as jy jou sjampoe of opknapper nie behoorlik uitspoel nie. Hou altyd jou hand of ’n handdoek oor jou gesig wanneer jy haarstileringsprodukte aanspuit.

#3 Jou slimfoon se skerm

As jy geneig is om aknee, verstopte porieë of puisies op jou wange en slape te kry, kan jou slimfoon dalk die sondaar wees. Dis omdat die vuiligheid en bakterieë op die skerm aan jou vel afsmeer elke keer dat jy op jou slimfoon praat. Hou handlappies byderhand en vryf elke af en toe jou slimfoonskerm daarmee skoon.

#4 Jou sonbril

Nes jou slimfoonskerm kan vuiligheid, sweet en bakterieë op jou sonbril verstopte porieë op die brug en weerskante van jou neus veroorsaak. Maak jou sonbril gereeld skoon met ’n sagte lappie.

#5 Jou grimeerborsels

Grimeerborsels kan baie vinnig vuil word – die meeste van ons gebruik dit immers elke dag. Dis daarom belangrik dat jy dit sowat een keer elke twee weke was. Hiér wys ons jou hoe om jou grimeerborsels te was én vinnig te laat droog word.

Bronne: www.allure.com, www.goodhousekeeping.com