Ons bring ons somerdae graag in die buitelug deur. In ’n sonnige land soos Suid-Afrika kan dit nie anders nie. Hoewel kenners al hoe meer maan teen die gevare van die son, is dit moontlik om jouself goed te beskerm, solank jy gewapen is met die regte kennis …

Mite #1: Sonskerm maak my vel olierig

As jy ’n olierige vel het, weet jy hoe moeilik dit is om ’n sonskerm te vind wat nie vetterig voel nie. Maar dit ís moontlik. Kies ’n sonskerm met ’n jelformule, een met ’n melkerige tekstuur (lotion) of ’n sproei. Dié formules absorbeer maklik en voel nie swaar op jou vel nie. Wees op die uitkyk vir woorde soos oil-free, for oily skin, non-greasy of dry touch op die verpakking.

Mite #2: As die son nie my vel rooi brand nie, word dit nie beskadig nie

Enige hoeveelheid son op jou vel beskadig dit, waarsku die velsorghuis Celltone in ’n mediaverklaring. Die son se UVB-strale brand jou vel rooi, terwyl die langer UVA-strale jou vel dieper binnedring en hoofsaaklik velveroudering veroorsaak. Glas blokkeer die meeste UVB-strale, maar nie UVA-strale nie. Jy kan dus steeds sonskade opdoen terwyl jy bestuur, al brand jy nie rooi nie.

FOTO: Unsplash

Mite #3: My vel word maklik bruin, so ek kan veilig tan

Daar is nie so iets soos veilige verbruining (tanning) nie. Jy verbruin wanneer UVA-strale jou vel se DNS beskadig en jou vel in reaksie daarop donkerder verkleur om verdere skade te voorkom, volgens die webwerf skincancer.org.

Mite #4: Ek moet tyd in die son deurbring sonder sonskerm om my vitamien D-vlak gesond te hou

Ons lyf vervaardig vitamien D wanneer dit aan UVB-strale blootgestel word. Die tyd wat jy in die son moet deurbring vir jou lyf om genoeg vitamien D te vervaardig, is egter baie min – net sowat 10 minute. Jy behoort genoeg vitamien D te kry van ’n gebalanseerde dieet (bv. olierige vis, lewer, eier en kaas), aanvullings en alledaagse blootstelling aan die son, volgens Celltone.

Mite #5: Dis nie noodwendig beter om ’n sonskerm met ’n hoë SBF te gebruik nie

Hoewel ’n sonskerm met ’n hoër SBF jou vel nie soveel méér teen UVB-strale beskerm nie, beskerm dit jou vel wel lánger teen die son voordat jy rooi brand. Dr. Dagmar Whitaker, ’n dermatoloog van Kaapstad, beveel aan dat Suid-Afrikaners daagliks ’n sonskerm met ’n SBF van 50 op ons gesig, nek, bors en hande aanwend. “Dit bied die langste beskerming vir die minste moeite omdat jy dit minder gereeld moet opknap.”

Wenk:

Om te bepaal hoe lank ’n sonskerm jou vel sal beskerm, maal die SBF met 10. ’n Sonskerm met ’n SBF van 15 sal jou vel dus 150 minute lank beskerm en een met ’n SBF van 50 vir 500 minute (sowat agt uur).

Mite #6: Hoeveel veroudering kan die son nou regtig veroorsaak?

Tot 90% van eksterne veroudering (veroudering weens omgewingsfaktore), soos fyn lyntjies, plooie en pigmentasie, is as gevolg van die son, sê Sonette Donker, velsorgkenner en eienaar van die velsorgkliniek Skin ID in Johannesburg. “Vergelyk ’n deel van jou vel wat nie baie son kry nie, soos jou lae rug, met ’n deel wat wel baie son kry, soos die bokant van jou arms, en jy sal sien dat laasgenoemde baie ouer lyk.”

Probeer dié nuwe sonskerms:

1. SVR Sun Secure Blur SPF 50 (R250). By Clicks

2. Bioderma Photoderm Nude Touch SPF 50+ (R260)

3. Exuviance Sheer Daily Protector SPF 50 PA++++ (R517). By uitsoeksalonne

4. Celltone Sun Screen Dry Touch SPF 50+ (R200)

5. Eau Thermale Avène Very High Protection Mineral Lotion SPF 50+ (R230)