Noem dit sommer geel goud. Want die voordele wat borrie vir jou gesondheid inhou, is nét so waardevol. As jy gewonder het hoekom jy dié spesery deesdae op al hoe meer restaurantspyskaarte sien – in van vars sappe tot ’n turmeric latte – is dit omdat borrie, of meer spesifiek die aktiewe bestanddeel kurkumien, breingesondheid kan bevorder, insulienweerstandigheid kan verminder en matige depressiesimptome kan verlig. Dit was dus net ’n kwessie van tyd voordat die borrie op jou bord sy weg sou vind na die bottels van jou skoonheidsprodukte.

Hoe help dit jou vel?

Omdat borrie antibakterieel en antisepties is, takel dit verskeie velprobleme, sê dr. Alek Nikolic, uitvoerende hoof van die aanlyn velsorgwinkel www.skinmiles.com en ’n mediese dokter wat spesialiseer in estetiese behandelings. "Dit help bv. om die vervaardiging van sebum (jou vel se natuurlike olie) te reguleer sodat jy minder geneig is om aknee (breakouts) te kry en dit kalmeer ook ’n rooi vel. Dit is ook ’n goeie antioksidant wat oksidasieskade teenwerk (oksidasieskade veroorsaak onder meer voortydige veroudering). Daarby is borrie ’n afskilferaar wat jou vel glansend laat lyk. En as jy genoeg borrie eet of drink, kan dit selfs jou vel minder pofferig laat lyk," sê dr. Nikolic.

Kragtig teen veroudering

Dit is egter nie net die aktiewe bestanddeel kurkumien se lof wat besing behoort te word nie. Die borrieplant stel ook aromatiese molekules genaamd turmerone vry om bv. insekte af te weer of te lok om bestuiwing aan te help. Nou het navorsing deur die skoonheidshuis Clarins gewys die molekules in die wortel is voordelig vir jou vel.

Eenvoudig gestel "kommunikeer" die selle van jou vel met mekaar en die omgewing, danksy onder meer lipiedstrukture wat in sekere van die velselle se membrane voorkom. Maar wanneer hierdie proses nie doeltreffend werk nie, versteur dit die vel se balans en word veroudering bespoedig: Jou selle vernuwe stadiger, jou vel is meer gedehidreer en dit verloor sy fermheid en glans. Clarins het gevind dat turmerone dié belangrike lipiedstrukture beskerm sodat selkommunikasie meer doeltreffend plaasvind. Daarom is dié kragtige bestanddeel nou in die splinternuwe weergawe van hul ikoniese serum, Double Serum, ingespan.

Saam met ander sleutelplantbestanddele help turmerone om jou vel gehidreer te hou, te herstel en homself beter teen omgewingsfaktore te beskerm, sê Jody Bunkell, kommunikasiehoof van Clarins. Borrie is vir seker ’n nuwe gunsteling in die skoonheidswêreld en vorentoe behoort al hoe meer produkte dié goue poeier as bestanddeel te hê, sê sy.

Kry só jou borrie in:

1. Gebruik ’n kurkumien-aanvulling. Vra by jou naaste apteek hiervoor.

2. Maak self jou eie warm borriedrankie: Meng ’n koppie melk of amandelmelk met ’n teelepel borriepoeier en ’n knippie kaneel en neutmuskaat. Maak die mengsel op die stoof warm. Dit het ’n warm pepersmaak. Jy kan die drankie met heuning versoet. Gesondheidswinkels verkoop ook deesdae ’n borriemengsel wat jy bloot met warm melk, amandelmelk of water kan meng.

3. As jy self vars groentesappe of smoothies maak, skil ’n duimgrootte borriewortel en versap of meng dit saam met die ander bestanddele vir jou drankie.

Probeer dié velsorgprodukte met borrie in:

1. Clarins Double Serum (R1 180 vir 50 ml)

Borrie in die serum vertraag selskade en laat jou vel jeugdiger lyk.

2. Kiehl’s Turmeric & Cranberry Seed Energizing Radiance Masque (R485)

Dié masker bevat borrie om jou vel te verhelder en bosbessiesaad om dit af te skilfer.

3. Urban Decay Meltdown Makeup Remover Cleansing Oil Stick (R550)

Borrie-ekstrak streel en kalmeer jou vel in hierdie grimeerverwyderaar. By die Urban Decay-winkels in Menlyn, Pretoria, en die V&A Waterfront, Kaapstad

4. Neostrata Pigment Controller (R840)

’n Bestanddeel afkomstig van borrie help voorkom dat nuwe donker vlekke vorm. Besoek www.skinmiles.com